Provinsiale kleure vir ruiters
Die Platorand Uithouritklub het die naweek die Dullstroom Challenge suksesvol aangebied.
Dit het op Elandskloof plaasgevind vanaf Vrydag 20 tot Sondag 22 Augustus. Die Equestrian Association SA het dit goedgedink om die ruiters wat reeds vir Fauresmith 2021 gekwalifiseer het, steeds die kans te gee om ‘n soortgelyke rit te ry. Om vir hierdie rit te kwalifiseer moes ruiters drie 80 km-ritte deur die jaar voltooi het. Platorand Uithouritklub het die 200 km gekombineer met hulle jaarlikse rit, wat dan ook 40 km-, 80 km-, 120 km- en 160 km-afstande insluit. In die 200 km het 27 ruiters op 20 Augustus weggetrek, waarvan slegs 13 Sondag daarmee klaargemaak het.

In die Platorand Uithouritklub se rit het 111 ruiters deelgeneem, waarvan vyf die 160 km gery het en twee dit suksesvol voltooi het. Nege ruiters het in die 120 km-afdeling weggespring, waarvan agt die rit voltooi het. In die 80 km-afdeling het 31 ruiters weggespring en 21 het dit voltooi. Die senior ruiters wat Mpumalanga Puma-kleure verwerf het, is David Armitage, Peet Hattingh, Nolene le Roux, Lillian Veldman, Jakkie Mellet en Barrie Badenhorst. “Dit was ‘n baie suksesvolle rit en die weer het mooi saamgespeel. Die ruiters was baie bedagsaam gewees. “Dankie aan die beamptes, ses veeartse, ritmeester, tydhouer, mediese span en klublede vir hul reëlings en harde werk,” het Johan Uys, die voorsitter van die Platorand Uithouritklub, gesê.





Foto’s: Manie Ward Capturing
