Vollies wy nuwe gemeente in met ‘n feestelike kerkdiens
Die Volle Evangelie Kerk bestaan al vir meer as 70 jaar in Mbombela.
Die Volle Evangelie Kerk Nelspruit, ook bekend as Vollies, het op Sondag 3 Oktober dié gemeente se nuwe gebou met ‘n feestelike kerkdiens ingewy.


Past. Louis Jordaan, die senior pastoor van dié kerk, sê die gebou is reeds ‘n jaar gelede gekoop.
“Die amptelike inwyding vind egter vandag (Sondag) hier plaas. Dit is die amptelike bevestiging van die gebou om vir God te vra om hierdie kerk te seën,” het Jordaan aan Laevelder gesê.


LEES OOK: IN FOTO’S:Geveerde vriende maak hul opwagting in Laeveldse tuin
Dr. Stafford Peterson, moderator van die Volle Evangelie Kerk Suid-Afrika, het die diens bygewoon.

“Vir ons is dit belangrik om van die staanspoor af te sê dat hierdie die huis van die Here is. Dit is nie ‘n konferensiesaal nie – dis die huis van die Here. Die groter terrein mag wel gebruik word vir enigiets anders, maar dis belangrik vir ons dat mense weet dat dit is waar ons die naam van die Here grootmaak, waar hulle kan kom vir berading; ‘n veilige plek,” sê Peterson.


Volgens Jordaan is daar tans sowat 300 lidmate in dié kerk. Die Volle Evangelie Kerk bestaan al vir meer as 70 jaar in Mbombela.

