Nuwe kameras help om die Malalane-omgewing te beveilig
Die AfriForum-buurtwag het op 9 September twee nuwe kameras in die dorp opgerig om met misdaadbekamping te help.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga, vorm dit deel van ‘n projek om die dorp in samewerking met Nkomazi Security Solutions te help beveilig, en verskeie kameras is reeds in die dorp opgerig.
LEES OOK: Ma droom van huis vir dié met spesiale behoeftes
Die nuwe kameras is die eerste stap van ‘n projek wat op veiligheid vir die gemeenskap fokus.
Bekker sê dat Malalane se unieke ligging, met die N4-hoofweg wat daardeur loop en die nabye grensposte na Mosambiek en eSwatini, veroorsaak dat die dorp ‘n maklike teiken vir misdadigers is. Die dorp trek ook vele toeriste in met die nabye Nasionale Krugerpark, een van die grootste toeristebetrekkings in Suid-Afrika.
LEES OOK: Vollies wy nuwe gemeente in met ‘n feestelike kerkdiens
Hy sê dat die Malalane-gemeenskap op datum met die uitbreiding van die dorp wil bly, en dat AfriForum die belangrikheid van veiligheid vir die mense waardeer.
“Hierdie projek gaan in die toekoms uitgebrei word en nog kameras sal geïnstalleer word. Dit is net een van vele maniere waarop AfriForum-buurtwagte misdaad help bekamp,” sê Bekker.
