Xander skiet ‘n kolskoot sekuur
Die 17-jarige Xander van Eck, 'n gr. 11-leerder van Hoërskool Lydenburg, was self verbaas oor sy nuutse plek op die nasionale skietranglys.
Hy het gehoop om net onder die top 10 skuts by die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJW) se nasionale skietkampioenskappe te eindig. Xander het aan dié kampioenskappe in Bloemfontein op Saterdag 25 September deelgeneem.
Hy was die eerste skut algeheel in die o. 18-juniorafdeling en het sesde algeheel geïndig. Die beste 150 skuts in die land het deelgeneem.
Xander het 680 van die 720 punte behaal, 60 punte meer as wat hy nodig gehad het om sy nasionale platinumstatus te bevestig.

Hy het reeds platinumstatus by die SAJW Presidentskiet by die Mopanietak in Phalaborwa in Junie behaal.
Maar om Protea-kleure te verwerf en internasionaal te mag deelneem, moet hy ook sy plek op die ranglys by die Internasionale Gallery Rifle Federasie se beperkteboutaksie-kampioenskappe behou. Dit vind op Saterdag 23 Oktober te Welkom plaas.
Hy het ook in 2019 met ‘n goue medalje by die federasie se wêreldkampioenskappe weggestap en was deel van Suid-Afrika se internasionale skietspan.
