Local newsNews

Oudsakeman van Mbombela sterf na kort stryd met kanker

Andries Esterhuizen (85), 'n welbekende inwoner van die stad, is op 5 Oktober ná 'n kort stryd met aggressiewe kanker oorlede.

Andries Esterhuizen (85), ‘n welbekende inwoner van die stad, is op 5 Oktober ná ‘n kort stryd met aggressiewe kanker oorlede.

Volgens sy familie het hulle geweet sy gesondheid is besig om te kwyn, maar hulle het nie verwag dat sy afsterwe só vinnig sou kom nie.

Esterhuizen is in 1937 in Beaufort-Wes gebore, waar hy gematrikuleer het en in diens van die destydse Volkskasbank vanaf Desember 1954 tot Augustus 1957 was.

LEES MEER: KMI-lughawe samel R40 000 in vir liefdadigheid

Esterhuizen het sedert 1968 in Mbombela gewoon. Hy het vanaf 1957 tot en met 1979 vir Sanlam gewerk, waarna hy Verre-Oos Makelaars op 1 Julie 1981 gestig het. Volgens sy familie was hy ‘n ywerige sakeman en in die laat sewentigerjare was hy die ondervoorsitter van Nelspruit se sakekamer. Hy was onder meer betrokke by die oorspronklike ontwikkeling van Rocky Drift.

Hy was ‘n kaptein in die weermag en het in Julie 1963 aangesluit. Tot in die laat negentigs het hy in die plaaslike kommando gedien.

Esterhuizen was ‘n lidmaat van die NG-Suid Gemeente vanaf 1975.

Volgens sy familie was hy ‘n kranige atleet wat sy Westelike Provinsie-kleure in kort afstande behaal het. Hy het uitgeblink as vleuel in rugby en het dit geniet om staaltjies te vertel oor al die drieë wat hy gedruk het.

Hy het ‘n besonderse liefde vir die natuur, mense, die bosveld en sy kleinkinders gekoester. Hy het altyd tyd gehad om te gesels.

LEES OOK: Juané skitter op die atletiekbaan, mik vir Paralimpiese Spele

Sy familie sê hy laat ‘n geweldige leemte by sy dogter, Theresa, sy seun, Hein, sy broer, Chris, asook sy skoonkinders Andrew en Michele, en sy kleinkinders, Andrew jr., Anushka, Ethan en Aidan.

Sy vrou van 60 jaar, Helena, is verlede jaar skielik aan ‘n hartaanval oorlede. Sy het in die tagtigerjare ‘n naaldwerkwinkel in Mbombela bedryf.

‘n Gedenkdiens vir Esterhuizen word op Saterdag, 16 Oktober, om 10:00 vanuit die NG-Suid Gemeente gehou. Vir navrae, skakel Theresa by 072 012 9991.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button