Samesyn en inspirasie slyp skrywers op Kaapsehoop
Van die onderwerpe watby die slypskool getakel is, sluit in die taksering van tekste in uiteenlopende genres, fokalisasie van karakters, die uitdagings van vertaling en om 'n verhaal in slegs ses woorde te vertel.
Deelnemers aan die Standard Bank Innibos Kunstefees se skrywerslypskool wat onlangs op dié dorp gehou is, is dit eens dat hul penne na dese propvol ink is.
Tien voornemende en reeds gepubliseerde skrywers het die slypskool bygewoon wat deur dr. Riana Scheepers aangebied is. Die slypskool is moontlik gemaak danksy ‘n ruim borgskap van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi).

Van die onderwerpe wat getakel is, sluit in die taksering van tekste in uiteenlopende genres, fokalisasie van karakters, die uitdagings van vertaling en om ‘n verhaal in slegs ses woorde te vertel.
Scheepers sê: “Dit was ‘n uitsonderlike groep vroue. Hoe lekker was dit nie om hulle te sien ontluik nie!”
Sy het die week se “Hertzogprys” aan Lili van der Zee toegeken, wat haar tekste gelaai met patos gelewer het.
Die slypskool is afgesluit deur twee sprekers wat die praktiese fasette van die skryfavontuur uitgelig het.

Dr. Nicol Stassen, die eienaar van Protea Boekehuis, het uitgestippel waarna uitgewers op die uitkyk is wanneer ‘n manuskrip op die tafel land en hoe die publikasieproses beloop.
LEES OOK: Juané skitter op die atletiekbaan, mik vir Paralimpiese Spele
Gielie Hoffmann, ‘n lewensafrigter van Pretoria, het op sy beurt die klem laat val op onder meer die veerkragtigheid en dissipline wat skrywers aan die dag moet lê.
Annemarie van der Walt, die organiseerder van Innibos se woordprogram, sê die skryftalent onder die deelnemers was “verbluffend goed”.
“Daarby is die ondersteuning van NATi om die kunste in Afrikaans ‘n hupstoot te gee in hierdie uitdagende tye, werklik betekenisvol,” het sy gesê.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
