IN FOTO’S: Duikeenheid dogtertjie se nuwe helde toe hulle haar fiets uit dam red
Met die trauma toe sy en haar fiets in 'n dam beland het eers vergete, was sesjarige Jané Barnard opgewonde om vir oom Pottie en tannie Joey van die duikeenheid te ontmoet. Al wat sy wou weet was watter een van hulle haar fiets sou uitduik.
Polisiehelde kapt. Pottie en kapt. Joey Potgieter wy hul lewens tot die redding van ander s’n, maar ‘n gelukkige einde in hulle beroep is skaars.
Die teendeel het egter gebeur toe hulle tot die redding van ‘n sesjarige dogtertjie met ‘n ongewone versoek gekom het – om haar fiets uit ‘n dam te duik.

Klein Jané Barnard en haar rooi fiets het op 16 Oktober in ‘n reuseseildam tydens ‘n kinderpartytjie beland, en hoewel haar ouers gelukkig vinnig tot haar redding kon kom, het die fiets onder die water verdwyn.
Laevelder het die Potgieters, verbonde aan die duikeenheid op Witrivier, genader met dié versoek ná die publikasie die familie se pleidooi op sosiale media gesien het en op 22 Oktober is hulle uit na die toneel.

Die fiets het met Jané en al in ‘n dam by die Stadsriviervallei naby Mankele en die Sudwalagrotte beland.
Haar ma, Jeanne, kry hoendervleis soos sy vertel wat gebeur het – en dink aan wat kón gebeur het.
Hulle was vir ‘n kinderpartytjie daar en die kinders het vroeër die dag op opblaasswembadspeelgoed op en af gegly – dit is ‘n seildam en met ‘n ekstra seil en seep, was dit hope pret.

Na ‘n ruk was almal eers klaar geswem, en met droë klere aan wou Jané fietsry. “Ek het net gaan sit, toe sien ek sy vat haar fiets. My man sê toe nog, ‘Kyk waar ry sy,’ en toe ons weer kyk, verdwyn sy in die water in,” sê Jeanne.
“My man is ‘n groot ou, maar dit het gelyk soos David Hasselhoff en Pamela Anderson hier af. Hemde uit en hulle begin toe in die water induik.

“Soos hulle hier afgehardloop het, skree hulle vir haar, ‘Los jou fiets!’ en sy hoor, ‘Waar is jou fiets?’ Sy het toe net geskree: ‘Hy is in die water, hy is in die water!’”
ALSO READ: More than R35 000’s worth of prizes up for grabs in White River Hospice raffle
Met Pappa plat op sy boude teen die kant het sy aan sy bene vasgehou en só het hulle haar daar uitgekry. Jeanne het genoem hoe dankbaar hulle was dat dit sý en nie haar tweejarige sussie was nie. Sy leer nog net swem.

Kapt. Pottie het haar geloof oor sy kon swem en kophou in die situasie. “Dit is fantasties. Ons gee elke jaar wenke; dit is belangrik dat die kinders moet leer swem.”
Hy sê hulle was al baie by sulke damme en Jané is die enigste een waarvan hulle weet wat só gelukkig was. Die seile is verskriklik glad as hulle eers nat is.
Met die trauma van die hele gebeurtenis eers vergete, was Jané opgewonde om vir oom Pottie en tannie Joey van die duikeenheid te ontmoet. Sy wou net weet watter een van hulle haar fiets gaan uitduik.

Joey het haar duikpak aangetrek terwyl oom Pottie nie die kans vir ‘n bietjie lesleer laat verbygaan het nie. Hy het vir Jané laat voel hoe swaar die toerusting is wat gebruik word en die regte name van alles geleer.
Hy het haar ook gewys hoe naby sy aan die bande was wat aan die kante van die dam is.
“So onthou volgende keer as jy ooit weer met jou fiets iewers inry, moenie panic nie, kyk eers waar jy is, kyk waar is die goed, en swem net daarheen, na ‘n tak toe of wat ook al.”

Met Joey in die water het Jané die instruksie gekry om by die bandmerke teen die kant te staan sodat sy ‘n baken kon wees vir haar om te sien waar die fiets in is.
Ses minute was nét verby, toe kom tannie Joey met die fiets te voorskyn. Met seker die breedste glimlag wat sy in ‘n week gehad het, het sy gekyk hoe die oom en tannie haar fiets uit die water kry.


Tannie Joey was skaars sélf uit die water en nog papnat, toe kry sy ‘n gróót dankiesê-druk. Jané en oom Pottie het saam soveel as moontlik water uit die rooi Totem-fiets gekry en sy het daar en dan opgeklim en ‘n draai om die dam gaan ry.
“Hy ry lekker, hy het net ‘n funny geluid,” sê sy toe sy na die eerste draai terugkom.

Na sy oortuig was dat die fiets nog in werkende toestand is, was daar ook geen meer skaamwees rondom oom Pottie nie. Sy het gevra of sy saam met hom mag ry. Weer ‘n fiets ryker en met loeiende sirenes is die twee daar weg.
