Inwoners rol self moue op
’n Groep vrywilligers, wat nie meer die vuil strate van Lydenburg kan verduur nie, het besluit om self hul moue op te rol en in te spring.
Op Vrydag 22 Oktober het hulle voor die Lydenburg Hospitaal en in Viljoenstraat vullis opgetel. Tot kinders het kom hand bysit.
“Dis verbysterend wat mense uit hul motor gooi. En ook hul swartsakke eenvoudig in oop erwe los. Ons doen dit soos ons tyd kry en soos vrywilligers beskikbaar is. Ons nooi die dorp uit dat elke inwoner sy verantwoordelikheid nakom. Ons hoop almal spring in waar hulle nood sien en waar vullis ophoop,” het Nicolene Pienaar, een van die vrywilligers, gesê.

Op Saterdag 18 September het hulle die Dullstroom-pad vanaf Lodge Laske Nakke tot by die bruggie voor Jock’s Country Stalls in Viljoenstraat skoongemaak.
En van daar het die skoonmaakaksie met momentum toegeneem. Dit gebeur nou amper twee keer per maand.

Die projek het reeds in April begin met die Lydenburg/Mashishing Sakekamer se PRIDE-dag. Verskeie sakeondernemings het toe ingespring.
Pienaar het voorts gesê hulle is keelvol vir die treurige toestand waarin sekere areas van die dorp is en hoop om stadig maar seker ‘n verskil te maak.
Om met die organiseerders in kontak te kom, skakel asb. die Steelburger/ Lydenburg Nuus by 013 235 1624. Nog hande is nie te versmaai nie.

