Local newsNews

Nóg 150 emmers vir behoeftiges is die doel

DIE ondernemingsgees van Wings of Gratitude se twee barmhartige samaritane ken geen einde nie.

Kort-kort vind hulle nog ’n projek om vir behoeftiges en bejaardes die lewe makliker te maak. Toinette Finley-Keel en Lorinda Kapp bedryf Wings of Gratitude, ’n organisasie sonder winsoogmerk, al vir etlike jare.

Die doel van hul 2021-Kersprojek is om ten minste 300 emmers met lewensmiddele aan te koop en teen middel Desember uit te deel. Daarvoor het hulle die hulp van sakeondernemings en Jan Alleman nodig.

Hulle het reeds skenkings ontvang en kon 150 emmers by Checkers The Heads teen ’n spesiale bedingde bedrag koop.

Hierdie emmers bevat onder meer niebederfbare produkte soos blikkieskos, rakmelk, vlapoeier, suiker, meel, mieliemeel, stampmielies, kits- en geblikte sop, lensies, ontbytpap, rys en sout.

Toinette Finley-Keel en Lorinda Kapp van Wings of Gratitude by die 150 emmers wat reeds ingesamel is.

Boonop is daar gewoonlik ’n pakkie koekies of lekkertjies vir die soettand. Kapp en Finley-Keel daag al die maatskappye in Lydenburg, Burgersfort en Steelpoort uit om ten minste 10 emmers te koop of om ’n skenking aan Wings of Gratitude te maak.

Die emmers gaan by die Kiepersol en Kannabas Woonstelle vir Bejaardes, en ander behoeftige gesinne, uitgedeel word. Toe Finley-Keel haar motorhuis se skuifdeur vir die fotosessie oopmaak, het die gesinne wat ander skenkings kom afhaal het, reeds nadergestaan en gevra of hulle ook emmers kan kry. Sy en Kapp wil Kersvader ook graag inspan om een dag se aflewerings te doen.

“Ons hoop regtig die publiek kan ons verder hiermee ondersteun, sodat ons ook geskenke aan kinders kan uitdeel.

Ons het ook reeds begin om vleisskenkings te ontvang en sal hopelik vleispakkies saam met die emmers kan uitdeel. Dit sal vir ons ’n groot bonus wees,” het Finley[1]Keel gesê.

Die emmers kan ook by Steelburger/ Lydenburg Nuus se kantore by Viljoenstraat 46 afgelewer word, waar Wings of Gratitude dit sal gaan afhaal.

Skakel Finley-Keel by 072 680 2434 of Kapp by 071 944 1175 vir verdere navrae.

Lees ook: Kleuterskole hou hul pretdag op ’n kleurryke wyse

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button