Kersloffees Konsert sluit Bietjie-bietjie-Bos op ‘n stemmige wyse af
Die laaste konsert van die Bietjie-bietjie-Bos-fees was ‘n groot sukses, met Jannie Moolman, Leon Ferreira, Germandt Geldenhuys, Chris Else en Wynand en Chereé se uitstekende vertonings.

Die Kersloffees op 5 Desember se venue is op kort kennisgewing van Hoërskool Bergvlam se rugbyveld tot die AGS Communio Kerk verskuif, dus het die reënweer geen hindernis gebied nie.

Germandt Geldenhuys het die gehoor meegevoer. Van die eerste reël het hulle ingespring en die lofliedere uit volle bors saamgesing. Die plaaslike sanger, Anne-Mari, het as ‘n verrassing opgetree en een lied saam met Geldenhuys gesing.

LEES OOK: kykNET Bietjie-bietjie-Bos Konsert laat voete brand en stemme weerklink
Die gehoor was klaar opgewarm vir Jannie Moolman en het die legendariese kunstenaar met groot applous verwelkom. Moolman het ook die geleentheid gebruik om die gehoor te vermaak met sy oorspronklike gedigte.

Die gehoor het Leon Ferreira se energieke houding geniet en met alle aandag na sy boodskap geluister. Hy was interaktief met die skare en het elke lid met sy boodskap beïnvloed.

Chris Else het met sy countrymusiek beïndruk. Sy kragtige stem het almal op hulle voete gehad.

LEES OOK: Bietjie-bietjie-Bos gaan klassiek
Chereé en Wynand Strydom was die laaste vertoning vir die Kersloffees. Die paartjie het die aand met Kersliede beëindig en seker gemaak die gehoor sing saam.

Die gehoor het die geleentheid gehad om in die middel en ná die konsert skenkings aan Huis Betlehem in Mbombela en Silwer Dae Ouetehuis in Waterval Boven te maak.

