Local newsNews

Vloed van 20 jaar gelede onthou

Op Saterdag 11 Desember was dit presies 20 jaar gelede dat 'n fratsvloed die dorp in 2001 tot stilstand geruk het.

Sowat 64 huise is verwoes, waarna verskeie versekeringsmaatskappye onmiddellik begin het om die mense te help, en versterkings is gestuur. Die Dinsdag om ongeveer 15:00 het die vloedgolf van ongeveer 1,8 m in die Sterkspruitrivier afgekom na ‘n rekordhoeveelheid reën in die omvangsgebied in die Longtompas geval het.


Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ná die tyd bevestig dat sowat 180 mm reën in een uur geval het.
Die Kruger-familie se lewensverlies was die grootste.
Idalette de Wit het haar twee seuns verloor. Dewaldt (7) en Riaan (9) de Wit het by hul ouma, Petro Kruger (62), gekuier.
“Die seuns het elke jaar uitgesien na die vakansie by ouma Petro op Lydenburg.
Ons het hulle die Sondag voor die vloed daar gaan aflaai. Die stadsjapies van Pretoria het dit baie op die plaas geniet,” het Idalette gesê.

Lees ook: Singende Jan se nuwe Kersalbum bekoor

Saam met die De Wit-seuns was die vier maande oue Marinette McCarthy. Marinette se ma, Jeanette Kruger-Hibbens (‘n bekende oud-Lydenburger), het haar dogter by Petro afgelaai sodat sy inkopies op die dorp kon gaan doen. Die herdenking van die vloed en die dood van Marinette is elke jaar steeds vir Kruger-Hibbens ‘n traumatiese ervaring.
Die Kruger-woning was die eerste huis wat die vloedgolf getref het toe dit van die berg af gekom het. Steelburger/Lydenburg Nuus se susterpublikasie, Laevelder, het op 14 Desember 2001 oor die tragedie berig.


‘n Soekgeselskap is saamgestel uit lede van die gemeenskap, polisie, kommando, verkeersbeamptes en plaaswerkers.
Marinette se liggaam is vroeg die volgende oggend naby die Viljoenstraat-brug (by Laramie Spur) in ‘n lae tak gevind.
Die liggame van klein Dewaldt en Riaan is teen 11:30 ontdek. Ouma Petro se liggaam is later die dag sowat 20 km stroomaf in mielielande naby die plaaslike begraafplaas gevind.


Liessie Potgieter, wat tydelik saam met haar man in die Uitspan Karavaanpark gebly het, is ook saam met haar karavaan weggespoel. Haar lyk is die volgende dag gevind.
Sy en haar man was van eMalahleni. Hy het kontrakwerk by die Lydenburg Smelter gedoen.


Een van die inwoners, Pieter Gertzen, het in 2001 aan Laevelder gesê dat tekens van die vloed reeds teen 13:30 die dag van die vloed sigbaar was.
Gertzen het probeer om sy vrou en werkers te waarsku, maar hy moes toekyk hoe die 1,8 m-wal water alles in sy pad verwoes. Die Gertzens se ouers kon in die boonste vlak van die dubbelverdiepinghuis skuiling soek.
Kerksale en koshuise is ingespan om tydelike skuiling en blyplek aan almal wie se huise verwoes is, te bied.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button