Local newsNews

Gemeenskap tree self in om D737 te herstel

Die Olifantspoortjie[pad (D737) is tans in ’n beter toestand nadat firmas, wildsplase en boere noodgewonge verlede jaar ingespring het en self van die herstelwerk begin behartig het.

’n Inwoner van die omgewing, Marléne Kleynhans, het egter bevestig dat dit steeds ’n nagmerrie is om hierdie pad op ’n gereelde basis te gebruik. Van die swaarvoertuigmaatskappye wat gereeld die pad gebruik, het reeds 30 ton teer ter waarde van R100 000 geskenk.

Werner Smulders, bestuurder van Lapeng Lodge, het gesê die groep wat die projek beplan, moet nog R50 000 insamel om self die kostes te dek.

Lees ook: Kruise van Engelse grafte uit Boereoorlog gesteel

Verskeie fondsinsamelingsprojekte, waaronder ’n gholfdag, word vir 2022 beoog. In die eerste fase van die herstel, word gepoog om die teer te red en dié dele te beskerm wat nog rybaar is. Die tweede fase is sowat drie kilometer lank en reeds ’n grondpad met sinkplate wat feitlik onbegaanbaar is. Dit gaan die gemeenskap minstens R5 miljoen kos om hierdie fase aan te pak en die pad te herstel.

Marlene Kleynhans, ’n verkoopspersoon van Steelburger/Lydenburg Nuus, wys hoe naby die teer aan haar motor se onderstel is. Sy moet
ook van die pad gebruik maak om haar kliënte te besoek.

“Ons hoop die Limpopo Padagentskap, beter bekend as Road Agency Limpopo (Ral) sal die projek op die langtermyn oorneem en dit heeltemal oorbou. Ons benodig fondse en nog hulp. Met die geld wat ons as donasies kry, wil ons ook waterkarre en skrapers huur om op ’n gereelde basis die pad te diens en in stand te hou. Ons bedank graag almal wat help. Maatskappye het nuwe waarskuwingsborde geskenk. Toerusting, diesel, rollers, teer, arbeid, oorpakke vir die werkers en verskeie kontantdonasies is gemaak,” het Smulders gesê.

Werkers besig op die D737.

“Dis ’n aaklige pad om te ry. Jy moet óf deur die reusegate jaag óf noodstoppe voor dit uitvoer om botsings te vermy. Die toestand van die pad is belaglik. Dit is alles goed en wel dat hulle dikwels sand inry en die pad skraap, maar ek sal sê dit is amper net so gevaarlik. Voertuie gly in die los sand. Die sinkplate op sekere dele het ’n rowwe impak op ons voertuie,” het Kleynhans gesê.

Om by die projek betrokke te raak, skakel Smulders by 083 481 4912, e-pos werner@ lapenglodge.co.za of sluit by die Facebook-groep “Fix the D737” aan. Ral het sedert November, ná talle navrae van Steelburger/Lydenburg Nuus, steeds nie terugvoer gegee hoe hulle tot die pad se herstel gaan bydra nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button