Local newsNews

Swendelgier, vleis vir lugtyd

’n WhatsApp-boodskap doen weer die ronde in Lydenburg en Ohrigstad van ene “oom Kallie” wat gratis vleis belowe in ruil vir lugtyd

Lesers het Steelburger/Lydenburg Nuus herhaaldelik die afgelope twee weke ingelig dat oom Kallie se versoeke eerder op dowe ore moet val. Volgens die boodskap is die Department van Gesondheid onderweg na oom Kallie toe.

Dit lui hy moet van ’n halwe skaap, ’n halwe vark en ’n beesagterkwart ontslae raak. Hy het dit in sy besit en is bang die gesondheidsinspekteurs daag by hom op een neem beslag daarvan.

Hy het glo nie plek vir al die vleis in sy vrieskas nie. Indien hy lugtyd ontvang, kan hy mense bel om dit gratis weg te gee.

Lees ook: Lydenburg-dam op ’n stewige 105% vol

 

Of die persoon wat die lugtyd vir hom koop, kan die vleis in ruil kry. By tye teiken oom Kallie die inwoners van Middelburg, want hy bly glo op die Stoffberg-pad. Ander kere vertel hy weer hy bly op die Ohrigstad-pad en teiken weer inwoners van Lydenburg en Burgersfort.

“Dit is vir seker ’n Afrikaanssprekende persoon as mens ‘oom Kallie’ probeer bel.Want as hy lont ruik wanneer iemand hom probeer uitvang, druk hy die foon in hul oor neer en blok die nommer,” het ’n leser gesê.

’n Ander leser het gesê dat die boodskap van die gratis vleis al 20 keer per WhatsApp en SMS na haar foon gestuur is. Oom Kallie sluit ook glo by die dorp se Facebook-groepe aan en kyk vir mense selfoonnommers wat daarop gedeel word. Steelburger/Lydenburg Nuus het verskeie kere die nommer waarvan oom Kallie die WhatsApp’s stuur, geskakel, maar hy antwoord nie. Lesers word gemaan om nie vir sy streke te val nie.

Back to top button