Verdagtes val plaaseienaar aan op Badfontein
Die slagoffer wou bloot net TV kyk. Die volgende oomblik sit hy met 'n pistool teen sy kop.

Op Vrydag 28 Oktober het ‘n aantal mans die eienaar van ‘n plaas aangeval.
Die eienaar het voor die voorval ‘n besoek van sy bure (sy swaer en dié se gestremde dogter), wat op dieselfde perseël bly, ontvang. Na die kuier het hy saam met hulle teruggestap na hul huis toe.
Daar is ongeveer 50 tree tussen die twee huise.
Lees ook: Landbou-unies soek antwoorde oor Mpumalanga-boere hul lewens verloor
Die plaaseienaar is terug na sy huis nadat hy hulle veilig afgesien het. Hy het sy glasskuifdeur agter hom toegemaak en toe sy plek voor die TV ingeneem.
Na bewering het drie vermeende rowers die glasskuifdeur oopforseer en ‘n pistool teen die slagoffer se kop gedruk.
Slegs twee van die drie verdagtes het handskoene gedra.
Hy is met draad vasgebind en in sy kamer toegesluit, voordat die verdagtes hulle rooftog voltooi en die toneel verlaat het.
Die slagoffer kon homself eers teen 04:00 bevry.
Hy het hulp by ‘n huis op dieselfde perseel gaan soek.
Daar is geen bewyse dat daar met die elektriese heining gepeuter is nie.
‘n Onbekende bedrag geld, sy oorlede vrou se juwele en ‘n .38-vuurwapen is gesteel.
Die plaaseienaar het nie beserings opgedoen nie.
Hy het sy dank aan sy bure, ander privaat gemeenskapspolisiëringsorganisasies en die SAPD vir hul hulp uitgespreek.
Hierdie is ‘n lopende berig. Meer inligting sal bekendgemaak word sodra dit beskikbaar gemaak word.

