Ondersteun Lydenburg Dienssentrum se fondsinsamelingsdag
Betaal 'n losprys om hierdie oupas en oumas van Lydenburg vry te laat, alles ten bate van die dienssentrum.
Op Saterdag 19 November van 09:00 tot 11:00 bied die Lydenburg Dienssentrum ‘n “gryp-‘n-ouma-of-oupa”-dag aan. Die idee is darem nie om hulle regtig gyselaar te hou nie. Met die losprys van R200 elk kan die oumas en oupas weer vrygelaat word.
“Dit gaan ‘n dag vol pret wees. En ons het al lekker tydens die reëlings gelag. Die hele projek is om fondse vir die dienssentrum in te samel. Ons gaan vooraf met die oupa of ouma se familie reël om met hul toestemming hulle ‘gyselaar’ te hou. En terwyl die oupa of ouma tee drink, gaan hul familie hul losprys betaal. Ons wil baie dankie sê aan Charlene Coetzee wat nie geskroom het om ons te help nie. Ek het nie eers nodig gehad om vir Charlene te oortuig nie, sy het net ja gesê. Dankie ook aan Natasha van Aswegen,” het Shaunette Erasmus, die dienssentrum se bestuurder, gesê.

Behalwe die aktiwiteite die Saterdag, gaan die projek ook op sosiale media gedeel word.
“Baie bejaardes se families bly nie in Lydenburg nie. Ons gaan ‘n foto van die bejaarde op ons Facebook-bladsy plaas, en die familie kan met ‘n inbetaling die losprys van R200 betaal om hulle vry te laat. Die bejaardes sien al baie uit daarna.”
Lees ook: Vyftien beeste deur weerlig doodgeslaan
Daar is baie bejaardes in Lydenburg wat nie meer familie het nie. Die dienssentrum nooi die gemeenskap uit om hulle losprys ook te kom betaal en die dag saam te geniet.
Die dienssentrum gaan reeds van die Vrydag af worsbroodjies, kolwyntjies en vetkoek per bestelling verkoop. Saterdag gaan daar ook eetgoed te koop wees, en Suzette Weideman, ‘n plaaslike sangeres, gaan optree.
Die Lydenburg Dienssentrum, wat ‘n heenkome is vir baie bejaardes, benodig dringend fondse om sy voortbestaan te verseker.
Skakel Erasmus by 084 208 0919 of 013 235 3875 vir meer inligting. Besoek die dienssentrum se Facebook-bladsy.

