Malalane-seun raak harte met mooi gebaar
Dié jongman van Malalane het besluit om só sy ondersteuning vir mense met kanker te wys.
Sekere gebare het net ‘n manier om die hartsnare te roer, maar van ‘n 13-jarige, beteken dit soms selfs meer.
Liam Tosen, ‘n gr. 7-leerder van Laerskool Malelane, het op sy jong ouderdom besluit hy wil iets doen om sy ondersteuning vir mense met kanker te toon.
Liam se ouma, Tersia Diedericks, asook ‘n familievriendin, Alda Nienaber, is albei met kanker gediagnoseer; ouma is nou in remissie.
Sy ma, Alicia, vertel hoe dit gebeur het dat hy op 1 November in ‘n barbierstoel beland het om al sy hare af te skeer.

“Alda is ‘n paar jaar terug al gediagnoseer. Sy was skoon, maar toe kom sy in ‘n groot karongeluk en is daarna weer gediagnoseer. Maar deur alles bly sy net positief en het altyd ‘n glimlag op haar gesig.”
Alicia, haar man en Liam het sowat twee weke gelede weer vir Nienaber gesien terwyl hulle by Berg-en-Dal in die Krugerwildtuin gekamp het. “Liam het daar vir my en sy pa gesê dat hy op 1 November sy hare gaan skeer om sy ondersteuning vir Alda en almal wat aan kanker ly,
te wys.
LEES OOK: Barberton-polisieman bied skilpad tweede kans op oorlewing
“Só kom 1 November. Ek tel hulle by die skool op en hy sê vir my: ‘Mamma, dis vandag 1 November.’ Ek sê toe, ‘Ja, en?'”
Daar en dan herinner hy sy ma aan sy belofte wat hy in die wildtuin gemaak het – sy het nie gedink hy was ernstig nie, maar so mik hulle toe vir die Moroccan Barber.

“Daar gesit en wag, het ons gesels oor die erns van die saak en dat dit vir baie mense ‘n diep betekenis sal hê. En dit gaan nie net daaroor om cool te wees nie, maar om ‘n boodskap uit te stuur vir die mense wat kanker het; dat ons elke dag aan hulle dink en dat die Here elkeen se lewens mag aanraak.”
LEES OOK: En die tweetjies se metgeselle na vriendin se troue is…
Die barbier het vir Liam nadergeroep en gevra wat hulle vandag vir hom kan doen. Liam sê so ewe: “Alles af, asseblief!” waarna die barbier hom vra of hy doodseker is.

Alicia het aan hom verduidelik dat haar seun sy ondersteuning wil wys vir mense met kanker, en dat hulle self ook mense ken wat daardeur gaan.
“Woeps, waps, al die hare is af!” sê Alicia.
“Toe die laaste hare val en ek kyk vir die man met die knipper in sy hande, was sy oë vol trane. Hy sê net: ‘It is on the house,’ en draai toe net om.”
