Elfjarige neem aan moderne driekamp in Portugal deel
Atletiekdroom word waar vir Zoe Janse van Vuuren (11) van Lydenburg.
Zoe Janse van Vuuren (11) van Lydenburg is gekies om as deel van die nasionale span aan die Union Internationale de Pentathlon Moderne se tweekamp-/driekamp-wêreldkampioenskappe in Madeira, Portugal, deel te neem, wat vanaf 26 tot 30 Oktober plaasgevind het.
In die o. 13-afdeling het Zoe ‘n 19de plek behaal uit sowat 40 atlete in hierdie kategorie. In totaal het 641 atlete van dwarsoor die wêreld deelgeneem.

Hierdie is ‘n Olimpiese sportsoort, en Zoe het aan die moderne driekampafdeling deelgeneem.
In hierdie dissipline ding atlete aan twee skietitems met ‘n laserpistool mee, swem twee lengtes van 100 m elk en hardloop twee 300 m-sessies.
Die atlete skiet, hardloop, skiet, swem en eindig met hardloop.
Zoe, ‘n gr. 5-leerder van Laerskool Lydenburg, het saam met haar pa, Nico Janse van Vuuren, Madeira toe gereis.
Die kampioenskap toets die atlete se uithouvermoë en dit is vir hulle ‘n groot uitdaging.
Lees ook: Vermeende kaper aangekeer ná jaagtog op Badfontein-pad, ’n ander in Lydenburg
“Zoe was van kleins af ‘n skitterende atleet en het goed in alles waaraan sy deelgeneem het presteer. Dit was ook die eerste keer dat sy op sand aan ‘n wedren deelgeneem het. Sy het gesê aan die begin het dit gevoel of sy stilstaan. Ons is baie trots op haar en dankbaar dat ons hierdie geleentheid vir haar moontlik kon maak,” het Nico gesê.
Die gesin hoop dat hulle almal volgende jaar na Bali, Indonesië, kan reis indien sy weer kwalifiseer.
Dit is nie onmoontlik dat Zoe wel in die toekoms vir ‘n Olimpiese Spele kan kwalifiseer nie.


