Local newsNews

Twee boesemvriende in grubotsing in Lydenburg

Matriekleerder (19) sterf en sy vriend sterk steeds in Milpark Hospitaal aan.

’n Plaaslike matriekleerder, nog steeds besig met sy eindeksamen, is Saterdag oorlede en sy boesemvriend erg beseer toe die Mitsubishi Triton waarin hulle onderweg was sowat 10 km buite die dorp op die Badfontein-pad na bewering teen ‘n vragmotor gebots het.
Dit is nog onseker presies hoe die ongeluk gebeur het, maar daar is aanduidings dat die bakkie van agter teen die vragmotor vasgery het. Volgens berigte het die Mitsubishi Triton aan die oorledene behoort.
Hy is die 19-jarige Franco Crafford, ‘n matriekleerder aan die Lydenburg Leersentrum. Die beseerde, Divan Hamman (19), is reeds met sy N2-studies besig. Beide die mans is van Lydenburg.

Franco Crafford en sy metgesel, Amy Combrinck, by die Lydenburg Leersentrum se matriekafskeid. Foto: Michelle Boshoff. 

Diegene wat hulle ken het hul vriendskap soos ‘n kettie en klip beskryf.
Steelburger/Lydenburg Nuus het onlangs foto’s van jong Crafford by sy matriekafskeid geneem en dit op die koerant se webblad gepubliseer.
Die ongeluk was Saterdag oor die middaguur. Netcare 911 sowel as Thaba Chweu se nooddienste was kort na die voorval op die toneel. Die aanduiding is dat Crafford met impak op slag oorlede is.
Sy ma, Nettie, het net gesê dit is ondenkbaar om jou seun in die fleur van sy lewe so aan die dood af te staan.
Volgens ooggetuies op die toneel met wie die koerant gepraat het, was die bakkie ‘n wrak, maar die vragmotor het min skade opgedoen.

Die Mitsubishi Triton.

“Barnard Vervoer wil ons innige simpatie aan beide families bied,” het Liezel Barnard van Barnard Vervoer, eienaars van die vragmotor betrokke in die ongeluk, aan Steelburger/Lydenburg Nuus gesê.
Die beseerde Hamman is eers na die hospitaal op Lydenburg geneem, vanwaar hy per helikopter na die Milpark Hospitaal in Johannesburg afgevoer is.

Sy pa, Dawie, het gesê Netcare 911 het hulle deurentyd bygestaan. “Ons het na die tyd gehoor van die senior personeel was nie die naweek aan diens nie, maar hulle was binne minute op die toneel. Hulle het my kind bygestaan totdat die helikopter opgedaag het. Tydens die helikoptervlug het die Netcare 911-personeel die hele tyd my vrou, Erika, oor Divan se toestand per SMS op hoogte gehou.

Die Mitsubishi Triton het op sy sy te lande gekom. Thaba Chweu se nooddienste het die toneel afgesper.

“Divan se linkerbeen het uit die heuppotjie gehaak. Sy regterbobeen is gebreek en sy skedel is gekraak. Hy het geen inwendige beserings nie, en klaarblyklik geen bloeding op die brein nie. Sy longe is weens die impak gekneus. Die spesialiste het ons gerusgestel dat pasiënte goed op behandeling vir hierdie beserings reageer. Divan is steeds onder mediese sedasie, sodat hy kan rus. Hy het kopwonde en ‘n groot skeurwond wat Dinsdag deur ‘n plastiesesnykundespesialis geopereer is. Ons glo daar mag bykomende operasies in die toekoms plaasvind. Maar ek en Erika is vol hoop en het berusting dat hy onder die beste mediese sorg verkeer,” het Dawie gesê.

Lees ook: Vermeende kaper aangekeer ná jaagtog op Badfontein-pad, ‘n ander in Lydenburg

‘n Dankbare Dawie het sy dank teenoor al die nooddienste en spesifiek Netcare 911 uitgespreek. Ook past. André Hanekom, wat die gesin bygestaan het. Hanekom was ook op die ongelukstoneel.

“Ons familie glo dat ons in geloof saam met die gemeenskap en dorp in gebed hierdeur sal kom. Dankie ook aan Paul Jacobs, Divan se oupa, wat deurentyd by sy kleinseun gestaan het terwyl hy op die toneel behandel is,” het hy verder gesê.

Die Craffords en Hammans was ook sedert die ongeluk in kontak, en kon hulle simpatie met mekaar deel.
Uit die aard van sy toestand is Divan nog nie bewus van sy vriend se dood nie.
Sersant Cave Dilebo, ‘n woordvoerder van die Lydenburg SAPD, het gesê die polisie is tans besig om die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het, te ondersoek.

Lees ook: Elfjarige neem aan moderne driekamp in Portugal deel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button