Die Windpomp verwelkom kunstenaar ná storm in Witrivier
Ten spyte van 'n vloed van water wat vroeër deur dié Witrivier-restaurant is, was 'n vertoning deur Dirk van der Westhuizen steeds 'n treffer onder aanhangers.

Dirk van der Westhuizen het op ‘n stormagtige Vrydagaand, 4 November, Witrivier behoorlik opgewarm.
Die Windpomp het hom op 4 November verwelkom, maar nie sonder uitdagings nie. Die restaurant het oomblikke voor die vertoning onder ‘n vloed van stormwater deurgeloop, maar ná ‘n geskarrel om die verhoog en klank vir die kunstenaar gereed te kry, was daar geen keer aan die partytjie nie.

Volgens die eienaar van Die Windpomp, Lewies Dippenaar, het diegene wat die vertoning bygewoon het, gesê Van der Westhuizen se optrede het beslis opgemaak vir die tyd wat hulle moes wag om hom te sien.
LEES OOK: IN FOTO’S: Boeredag buite Mbombela ‘n lekker saamkuiersukses
Hy was ook nie skugter vir sy aanhangers nie. Terwyl hy gewag het, het hy tussen hulle deurbeweeg en soos ou vriende met hulle gesels.
Selfs tydens sy optrede het hy telkens in die gehoor in beweeg en dáár in plaas van op die verhoog gesing – tot groot genot van sy aanhangers.








