Local news

Nataniël oudergewoonte ‘n gunsteling in Mbombela

Nataniël was onlangs weer in Mbombela; en hét die mense dít nou geniet!

Nataniël het geen bekendstelling nodig nie. Sy gewildheid is meer prominent as ooit, iets wat die groot gehoor by sy onlangse vertoning by die Hervormde Kerk weerspieël het.

Die jaarlikse Nataniël-konsert op 1 November, gereël deur Unigrad College, is ‘n hoogtepunt op die vermaakliksheidskalender. Ná amper drie jaar van inperking was die gehoor gereed vir dié opvoering.

Oudergewoonte het Nataniël saam met die pianis, Charl du Plessis, opgetree. Dié twee groot name op een verhoog sorg vir topvermaak.

LEES OOK: IN FOTO’S: Papsopnat pret by Bergland

Daar was geen tekort aan stories en musiek nie. Die gehoor het entoesiasties gelag en gejuig soos hy afgewissel het tussen Afrikaanse stories en Engelse liedjies.

Dit is moeilik om ‘n Nataniël-storie oor te vertel, want hy is enig in sy soort.

Die organiseerder van die opvoering, Riaan Loubser, sê baie mense wat Nataniël vir die eerste keer op die verhoog gesien het, was verbaas dat hy so ‘n goeie sanger is.

Sy weergawe van Engelbert Humperdink se “Last Waltz” het die gehoor só meegevoer dat daar absolute stilte in die ouditorium was, maar ook net tot ná die laaste noot; daarna was dit ‘n properse gejuig.

LEES OOK: IN FOTO’S: Boeredag buite Mbombela ‘n lekker saamkuiersukses

Iets wat ook altyd ‘n bederf tydens die kunstenaar se vertoning is, is die uitspattige kostuums.

Tydens die 80 minuut vertoning het hy drie maal ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.

Sommige van die gehoor het hul asems in afwagting opgehou terwyl ander onder mekaar gefluister het oor wat hulle kon sien.

LEES OOK: Malalane-seun raak harte met mooi gebaar

Nataniël se kostuums word deur ‘n Laevelder, Floris Louw, ontwerp en is niks minder as kunswerke nie.

Loubser is al vir 16 jaar by hierdie konsertreëlings betrokke en sê hulle het oor die jare ‘n getroue gehoor opgebou wat sonder twyfel een van Nataniël se lojaalste is.

“Hierdie jaar se konsert was besonders, want mense was reg om weer saam teater te geniet. Ek glo Nataniël is ongetwyfeld volksbesit en dat ons land baie armer sou wees as dit nie vir iemand soos hy was wat kleur aan ons lewens gee nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button