Nelspruit Eisteddfod se bestes by prysuitdeling aangewys
Ná twee jaar sonder 'n gala-aand, beplan die Nelspruit Eisteddfod iets groot vir 2023.

Die Nelspruit Eisteddfod het onlangs sy prysuitdeling en dankiesê-funksie by die Country Boutique Hotel gehou.
Vyf talentvolle jongelinge is daar as die bestes in hul kategorieë aangewys.
Saba Page, Imé Lourens en Karla Brits het elk die Innibos-toekennings vir hul onderskeie ouderdomsgroepe gewen. Esti Bekker en Hannah Delpaul was die juniors en seniors se veelsydigste leerders.
LEES OOK: Akrobate verskaf genot aan toeskouers in kleurvolle konsert by Communio Kerk
Die voorsitter van die eisteddfod, Verna Walters, sê hulle span is opgewonde om volgende jaar weer ‘n volwaardige gala-aand aan te bied na die afgelope twee jaar se kleiner funksies, hoofsaaklik weens die Covid-19-pandemie.
“Ons is volgende jaar 45 jaar oud en ons gaan ‘n groot aand hou. Ons gaan dit heeltemal anders as ander jare doen,” sê sy.
LEES OOK: Veelsydige kunstenaar bekoor sy Witrivier-gehoor met uithaler-vertoning
Walters meen ook dié jaar was ‘n reusesukses, iets wat nie sonder al hulle ondersteuners en borge moontlik sou wees nie. Vir hulle aandeel in hierdie belangrike ondersteuning van die kunste, is die hele eisteddfodspan ongelooflik dankbaar. “Ons het 1 100 meer inskrywings as verlede jaar gekry, en hoop volgende jaar is selfs beter.”







