Local news

Veelsydige kunstenaar bekoor sy Witrivier-gehoor met uithaler-vertoning

Germandt Geldenhuys was onlangs by Sip Coffee Café & Deli in Witrivier.

“Lekker, Louis!”

Dít hoor Germandt Geldenhuys, of soos baie hom ken, Louis van Binnelanders, dikwels uit ‘n gehoor wanneer hy êrens optree.

Dié akteur en sanger was op 5 November by Sip Coffee Café & Deli vir ‘n laatoggend optrede.

LEES OOK: Akrobate verskaf genot aan toeskouers in kleurvolle konsert by Communio Kerk

Hy vertel sy grootwordjare was maar nie baie divers wat musiek betref nie – as ‘n pastoor se seun is daar meestal gospelmusiek geluister en dié is soms met klassieke musiek afgewissel. Toe hy egter universiteit tref, het daar ‘n ander wêreld vir hom oopgegaan.

So het hy die gehoor op ‘n reis deur die eras geneem met die liedjies wat vir hom uitgestaan het. Daar was Queen, Frankie Valli and the Four Seasons, Creedence Clearwater Revival én Tina Turner, almal meesterlik vertolk.

Een van sy medeakteurs op Binnelanders, Ben Kruger (wat die rol van Okkie Ferreira gespeel het), is in Mei 2021 oorlede – hy het ook staaltjies van hom gedeel asook sy gunstelingliedjie, “Tennessee Whiskey”, gesing.

LEES OOK: Die Windpomp verwelkom kunstenaar ná storm in Witrivier

Geldenhuys het eenkeer die liedjie vir hom gesing, waarna Kruger vir hom ‘n bottel van dié whiskey as geskenk gegee het. Hy en oom Ben, soos hy na hom verwys het, moes nog saam ‘n glas van die einste whiskey geniet het, maar het nooit die kans gekry om dit te doen voor sy dood nie.

Verder het Geldenhuys selfs so ‘n bietjie Italiaans by die oggend ingewerk, met die liedjie “La donna è mobile”.

Hy het die oggend afgesluit met Joshua na die Reën se “Lig op die horison”, wat hy sê vir hom hoop gee vir wat in 2023 voorlê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button