Griewe teen senior VF Plus-raadslid in Mpumalanga sloer ‘n jaar
Daar is huismoles in die provinsiale VF Plus-geledere nadat verskeie griewe van personeellede wat oor 'n tydperk van 'n jaar teen Mbombela-raadslid Ken Robertson gemaak is, deur die partystrukture uitgerek, gesloer en steeds onafgehandel is.
Daar is huismoles in die provinsiale VF Plus-geledere nadat verskeie griewe van personeellede wat oor ‘n tydperk van ‘n jaar teen Mbombela-raadslid Ken Robertson gemaak is, deur die partystrukture uitgerek, gesloer en steeds onafgehandel is.
Een van die gegriefde werknemers het haar nou tot die howe vir remedie gewend, ‘n tussentydse beskermingsbevel teen Robertson bekom, en ook ‘n krimineleklag gelê.
In Oktober 2021 is die eerste grief aan die party se hoof- uitvoerende beampte, Pieter de Necker, gestuur, waarvoor hy skriftelik ontvangs erken het. In die grief is verskeie klagtes op die tafel geplaas wat aantygings van kru taalgebruik in WhatsApp-boodskappe insluit, en daar word ook verwys na juwele wat Robertson glo aan die werknemer gestuur het. Hieroor het ‘n senior partylid selfs ‘n verklaring afgelê om die werknemer se bewerings te staaf.
LEES OOK: Presidential VIP protector dies in crash during deputy president’s motorcade in Mpumalanga
Aanvanklik het dit geblyk dat De Necker ernstig oor die klag is, en het hy haar versoek om bewyse oor haar klagtes te stuur. Intussen het hy die saak volgens hom na die party se arbeidwoordvoerder verwys, en dit het aan die lig gekom dat ‘n tweede werknemer ook haar misnoeë oor Robertson se gedrag te kenne gegee het.
In November 2021 het die eersgenoemde werkemer nog niks gehoor nie. Sy doen toe weer navraag by De Necker, wat haar na menslike hulpbronne verwys, en lig haar terselfdertyd in dat die korrekte griewevorm nie in Oktober gebruik is nie. Sy volg dit op met ‘n hersiene grief wat amptelik op 2 Desember 2021 ingedien word. Na gesprekvoering dui De Necker volgens haar aan dat ‘n grief nie verligting gaan bring nie, want dit sou in ‘n “he said, she said“-situasie ontaard het. Volgens die VF Plus se nasionale verkiesingshoof en woordvoerder, Wouter Wessels, het De Necker haar laat weet dat hy aan haar gesê het beide partye moet bewyse lewer eerder as wat dit so ‘n situasie sou word.
LEES OOK: KNP security increased for the festive season
Op 8 Desember besluit sy om die grief terug te trek, ook na bewering omdat senior partylede vir haar gesê het dis ‘n “sensitiewe tyd” vir die party. Wessels beweer wel hy het haar aangeraai om ‘n grief in te dien ongeag die komende verkiesing.
De Necker se weergawe verskil hieroor in sy antwoorde op ‘n navraag deur Laevelder, wat aan Wessels asook aan dr. Corné Mulder, die hoofsweep, gerig is. Wessels ontken aanvanklik eers dat De Necker die grief reeds in Oktober ontvang het, maar toe Laevelder hom daarop wys dat daar e-posbewyse hieroor is, sê hy in opvolgnavrae dat die grief aan ‘n konsultant gestuur is om te hanteer. Oor die res van die grief se inhoud sê Wessels bloot dat hy nie die inhoud daarvan gaan beantwoord nie, omdat die grief teruggetrek is.
LEES OOK: More than 100 houses damaged by storm around Hazyview
Intussen word daar toe oorgeenkom dat Robertson hom uit die provinsiale kantoor gaan hou en dat kommunikasie tussen hom en die personeel op skrif geskied. Dié plan werk nie, en vroeg in 2022 begin die onweerswolke weer in die VF Plus-geledere saampak, met drie werknemers wat klagtes teen Robertson indien. Die VF Plus beweer by monde van Wessels dat hy nie bewus van so ‘n reëling is nie.
In Februarie kontak een van die klaers weer vir Wessels, en hy verwys haar na die menslikehulpbronafdeling.
In Mei 2022 het almal genoeg gehad, en dien hulle amptelike griewe wat viktimisering en boeliegedrag insluit, in. Aantygings word ook gemaak van onregverdige werksverwante versoeke buite werksure. Hieroor sê Wessels: “Die griewe van die werknemers het betrekking gehad op onder meer werksure, operasionele aangeleenthede en werking met raadslede in die provinsie (dit was dus nie beperk tot mnr. Robertson nie).”
Wessels verduidelik in sy navraag dat al drie vroue ingestem het tot ‘n “informele proses” ingevolge die party se grieweprosedure. Terwyl die party beweer dat twee van die drie stelle klagtes informeel bygelê is, vertel die klaers ‘n ander storie wat getuig van etlike hulpkrete wat nie met verligting begroet is nie.
LEES OOK: Procedure new to Rob Ferreira Hospital proves life-changing
Dokumentasie bewys dat die klagtes as ‘n “primêre grieweondersoek” hanteer is en dat ‘n ondersoekvergadering, wat deur De Necker gelei is, in Junie gehou is. Hyself verwys daarna as ‘n “ernstige grief”. Die vroue het almal hul griewe in ‘n baie ernstige lig beskou.
Die eerste werknemer se klagte word nie deurgesien nie omdat dit glo te lank ná die gebeure op die tafel gesit is, terwyl die tweede werknemer, wat in Februarie 2022 by die party begin werk het, glo moet hoor dat haar klag ook nie geldig is nie omdat haar pligstaat nie afgehandel is nie en dat haar klagte dus nie opgeweeg kon word nie. Bewyse van hoe Robertson haar op WhatsApp vloek en kru taal gebruik, is na bewering nie aangespreek nie, maar daar word wel ingestem dat haar pligstaat aan haar gegee sou word.
Wessels ontken egter by navraag dat sy geen pligstaat gehad het nie, en sê dit moes slegs gewysig geword het.
Die derde grief is deur dieselfde werknemer na die tafel gebring wat reeds in Oktober haar tot die senior partystrukture gewend het. Sy het ‘n partyverteenwoordiger ter ondersteuning na die gesprekvoering saamgeneem.
Nadat al die partye hul saak gestel het, is daar besluit om ‘n afkoelperiode van ‘n maand te neem sodat daar teen Junie besluit kon word op die pad vorentoe.
LEES OOK: City of Mbombela raids Currie Street
Die eerste opsomming wat De Necker ná die vergadering saamgestel het, was volgens haar nie ‘n getroue weergawe van gebeure nie, en sy het die klanklêer van die verrigting versoek.
Wessels sê daar was egter tegniese probleme om die klankopname vir haar te gee, en alternatiewe hiervoor is aan haar gestel.
Maar De Necker se brief is wel aangepas, en hierin word dit duidelik gestel dat die grief nie afgehandel is nie.
Junie het gekom en gegaan, en navrae het op dowe ore geval. In Oktober doen sy weer ‘n keer navraag oor die grief teen Robertson, waarvan die proses vyf maande vantevore begin het, en waarmee die party sy voete sleep.
Wessels sê: “Die uitkoms is onderteken en resolusies geïmplementeer. Die een werknemer het egter besluit om ná die sekondêre proses tot aksie oor te gaan omdat sy van mening was dat die resolusies nie al haar griewe voldoende opgelos het nie.” Maar hy antwoord nêrens of vyf maande ‘n regverdige tydperk sou wees om te wag nie.
LEES OOK: Excitement over upcomming Kersloffees at Belladonna Hervormde Kerk
Intussen het sy genoeg gehad en bekom ‘n interim-beskermingsbevel teen Robertson, wat op 7 Desember vir bekragtiging in die hof aangehoor sal word. Die kriminele klag is gelê en Laevelder het die saaknommer bekom.
Toe die VF Plus dus op 18 Oktober die hulpbronbestuurder vra om ‘n vergadering te belê, sê Wessels: “Daar is ‘n voorlopige beskermingsbevel bekom wat die vergadering onmoontlik gemaak het. Daarom is dit afgelas.” Laevelder se vraag of die party nou agter die sub judice-reël gaan skuil, is soos volg beantwoord: “Die uitkoms van die bevel en enige klagte wat ingevolge ons prosedure aanhangig gemaak word, sal verdere optrede bepaal.”
Die tweede werknemer het uiteindelik op 14 Oktober haar pligstaat ontvang, wat op 16 Oktober deur die party se dagbestuur goedgekeur is. Intussen is sy sonder ‘n pligstaat amptelik geëvalueer, en die tweede keer binne ‘n maand is sy nadat sy haar pligstaat ontvang, weer geëvalueer.
LEES OOK: SPCA White River sends urgent message to all pit bull owners
Dis egter nie net in Mbombela waar die vure doodgeslaan moet word nie, en ‘n ondersoek oor partyskenkings word tans in die Standerton-kiesafdeling gedoen. Op ‘n lys vrae hieroor sê Wessels net: “Die ondersoek word ingevolge die party se grondwet en tugreglement hanteer, en word sodanig volgens die voorgeskrewe tydlyne besleg.”
Robertson is in die partynavrae ingesluit en die geleentheid gegun om sy saak te stel. Hy het by monde van sy regsverteenwoordiger, Tersia Marshall, soos volg gereageer: “In politics, things are never as they seem. Let’s wait for the court’s findings and then restructure the way to move forward. Politics can be dirty, some people are just more willing than others to prove it.”
