Laeveld in 2023 op kykNET te sien
Daar lê volgende jaar 'n kykNET-program voor wat die Laeveld en sy mense ten toon gaan stel.
kykNET-kykers kan in Januarie uitsien na ’n rits gunstelingprogramme wat vir ’n splinternuwe seisoen na DStv, kanaal 144, terugkeer.
Een van dié programme speel selfs in die Laeveld af.
Laeveldbewoners skop op 7 Januarie om 18:00 af en wys waarom hierdie deel van die land een van die juwele in Suid-Afrika se kroon is.
En dan is daar die mense. Mense soos die spoorweëhistorikus Japie Smit wat meer as 40 000 foto’s van treine in Suid-Afrika het.
LEES OOK: Metgeselle na troue sit beste voetjie voor in Pretoria
Die skrywer en joernalis Annemarie van der Walt wat in Kaapsehoop met sy troppe perde woon, Mariëtte Joubert wat ossewaens bymekaarmaak en Smangaliso Mlondolozi wat as tienerseun die eerste keer die Sudwala-grotte besoek het en net geweet het hy moet eendag daar werk. Vandag is hy die persoon wat die nuwe personeel oplei.
Hierdie is maar net ’n paar van die fassinerende mense wat kykers in die reeks van 13 episodes gaan leer ken.
Die produksiespan het van Emgwenya, voorheen bekend as Watervalboven, tot op Lydenburg gereis.
