Local news

Sekuriteit keer ADHD-lyer voor wat glo onwetend met batterye by winkel uit is ná episode

Daar is nou al 'n geruime tyd 'n ernstige tekort aan voorraad van sekere medisynes by sommige staatshospitale se apteke. Dit kan selfs na meer as net mediese gevolge lei, soos in Mark Hutchinson se geval.

“Dit is ‘n skande en ‘n vernedering dat enige mens deur so ‘n ongenaakbare situasie moet gaan net omdat geen van die staatshospitale vir hom die noodsaaklike medikasie het nie.”

So mor Tony Williams oor sy boesemvriend, Mark Hutchinson, wat onlangs deur die polisie vir winkeldiefstal toegesluit is nadat hy glo onwetend met ‘n pakkie batterye by ‘n supermark op die dorp uitgestap het.

“Mark ly aan asma, is bipolêr en het ook ADHD (aandagtekort- hiperaktiwiteitsversteuring). Indien hy nie sy medikasie gereeld en korrek gebruik nie, word hy erg verward.

“Ons sukkel nou al weke om sy medikasie vir hom te kry. Ons kon nog nooit voorheen by enige van die plaaslike staatshospitale (Matikwana, Bongani en Themba) die korrekte medikasie kry nie.”

Volgens Williams het hulle uiteindelik by die Sabie Hospitaal die medikasie gekry.

“Toe ons egter verlede maand daar was, het hulle gesê daar is ‘n groot medisynetekort as gevolg van die Covid-pandemie. Ek en Hutchinson het ‘n paar maande gelede van Johannesburg af na Hazyview verhuis. As gevolg van die siekte is hy werkloos en sy familie het hom ook verwerp. Hy oorleef op sy bietjie Sassa-pensioen wat hy maandeliks ontvang. Ek het hom toe maar saam met my gebring.”
Volgens Williams het Hutchinson weer een van die aanvalle gehad terwyl hy gaan inkopies doen het, en word hy dan heeltemal verward en weet glad nie wat om hom aangaan nie.

“Hy het om een of ander rede ‘n pakkie batterye geneem en daarmee in sy hand by die deur uitgestap. ‘n Sekuriteitswag het hom voorgekeer en die polisie ontbied.”

Hutchinson was te deurmekaar om sy besonderhede vir die polisie te gee. Hy is oornag in die selle aangehou.

“Toe ek hom uiteindelik opspoor, het hy ‘n groot bloeiende wond op sy voorkop gehad en was hy net in sy onderbroek geklee.”

Hy is skynbaar deur die nag deur van sy medegevangenes aangerand toe hy vermoedelik weer ‘n aanval gehad het. Hulle het ook al sy klere en skoene van sy lyf af gestroop.

“Wat my geweldig ontstel is dat die dokters met wie ek by Matikwana gaan praat het, gesê het hy moet ‘n privaat dokter gaan spreek sodat dié vir hom ‘n voorskrif kan gee. Nie een van ons het geld om by ‘n apteek medisyne te kry nie.”

Volgens Williams kan die staat glo ‘n voorskrif uitreik, sodat Hutchinson dan op die sogenaamde Central Chronic Medicine Dispensing and Distribution (CCMDD) -program geregistreer kan word. Hy kan dan sy medikasie by apteke soos dié by Clicks, Dis-Chem, Medirite en Pick n Pay, of aangewese gemeenskapsale soos sommige kerke, afhaal.

Die medikasie word normaalweg van ‘n sentrale fasiliteit in Gauteng na die onderskeie oplaaipunte gestuur.

In Mpumalanga is die probleem egter dat die Departement van Gesondheid nog nie die stelsel geïmplementeer het nie.

Dumisani Malamule, die departement se woordvoerder, het teen die ter perse gaan nog nie op navrae oor die CCMDD-stelsel gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

markkinnear

Mark Kinnear is based in Mbombela and has 33 years’ experience in journalism, mainly on the sports beat. He has made his career in community media and has extreme passion for covering a wide variety of sports events.
Back to top button