Local newsNews

Boer in plaasaanval doodgeskiet op Badfontein

’n Bekende beesboer, Johan Nortjé (66) is die naweek op sy plaas, Wilgekraal, doodgeskiet. Die twee aanvallers het sy vrou, Susan (56), ook in die kombuis oorrompel, deur die gesig geklap en haar polse met draad vasgebind.

Een van die vermeende aanvallers (36) is Maandag omstreeks 18:00 in Spring Valley naby eMalahleni vasgetrek.

Lede van die SAPD se K9-eenheid en ander polisie-eenhede het die verdagte, die vermoorde man se bakkie, ’n 9 mm-pistool en ammunisie opgespoor.

Die vermeende aanvaller is tydens die inhegtenisname beseer en sterk tans onder bewaking in die Witbank Hospitaal aan. Johan het om 06:30 op Sondag vanaf sy kombuis na die skuur gestap om sy Toyota Hilux GD6 uit te trek. Hy is terug kombuis toe om vir ’n werker ’n ander paraffienstofie te gaan haal.

“Toe hy met die stofie terugstap na die skuur, het die twee vermeende plaasaanvallers van agter die skuurdeure uitgespring en hom in sy borskas geskiet. Die plaaswerker het glo al met sy hande in die lug op sy knieë gesit,” het Gideon Cross, hoof van AfriForum se plaasveiligheid in dié gebied en lid van die Badfontein Grondeienaarsvereniging, gesê.

Die Badfonteinvallei buite Lydenburg.

Die aanvallers het Johan se lyk na bewering sowat 2 m in die skuur ingesleep en met groot sakke toegegooi.

“Daarna is die aanvallers na die kombuis waar hulle Susan aangeval het. Hulle het op die sleutels vir die bakkie, die sleutels van die kluis, die egpaar se selfone en hulle bankkaarte aangedring. Sy het alles aan hulle oorhandig,” het sers. Cave Dikaboane, die Lydenburg SAPD se woordvoerder, gesê.

Van die ander werkers wat reeds besig in die lande was, was verbaas oor die spoed waarmee Johan se Toyota weggejaag het.

Dit was egter vir hulle binne sekondes duidelik dat dit twee vreemde mans voorin was. Van die werkers het na die huis toe gehardloop en een het met die trekker na ’n buurman gejaag om hulp te gaan soek.

Die buurman het die ander lede van die Badfontein Grondeienaarsvereniging verwittig en die Lydenburg SAPD is ook na die plaas ontbied. Die buurman het die draad om Susan se polse losgemaak.

“Die DA in Thaba Chweu betuig ons meegevoel aan die familie, vriende en die gemeenskap van Badfontein met die ontydige dood van Johan Nortjé. Die DA sal aanhou veg vir die regte van ons landsgenote,” het Sonja Boshoff, ’n DA[1]parlementslid, gesê.

Die plaas is op die R36 na Badfontein, sowat 10 km verby die Kwenadam in Machadodorp se rigting. Die Lydenburg SAPD het sake van huisroof en moord geopen, en dit word verder ondersoek.

Susan Nortje skryf: Ek wil graag dank betuig aan Michael van Eck, Poena van Heerden, Hilton Philpot, die SAPD en die Badfontein Grondeienaarsvereniging wat die ondersoek gelei het, asook Gideon Cross en sy span. Johan, nie almal het die voorreg om ‘n legende genoem te word nie. Jy was een van die taaiste, gehardste boere wat ons geken het. Tegnologie en selfone was miskien nie jou sterkpunte nie, maar van ‘n trekker, mielies en beeste kon ‘n mens jou enigiets vra. Jy was ‘n man gebore om die grond in jou hande te voel, te ploeg en plan te maak. Min het geweet hoe klein jou hart eintlik is, maar ook hoe ruim jy gegee het. As daar ‘n boer was wat ‘n plan kon maak, was dit jy. Jy het hard gewerk, maar ook hard gelag. Johan, dit was te gou, te skielik. Ons eer jou nalatenskap.

Lees ook: Sportgees spoel oor Hoërskool Lydenburg se velde

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button