Oud-Laevelder-joernalis vertel van nuwe boek
Die tweede boek uit Elize Parker se pen speel in die Komatipoort-gebied af en handel onder andere oor renosterstropery en mensehandel op die Lebombo-grens.
Elize Parker het haar Laeveld-boekreeks met Stil vloei die Komati begin. Die tweede boek in dié reeks, Wanneer skaduwees kantel, is nou beskikbaar.
In die eerste verhaal keer die drie Van der Walt-niggies terug na hul oupa se wildplaas en lodge naby Komatipoort, en ook na die dorp self. Die een niggie en haar oupa open ‘n renosterweeshuis vir die wesies van stropery, die ander open ‘n skuilhuis vir die slagoffers vir mensehandel op die Lebombo-grens, en die ander word ‘n forensiese speurder wat renosterstropers ontmasker.
Die sentrale tema handel rondom ‘n skiettragedie in hul kleintyd en die selfblaam wat dit tot gevolg gehad het.
LEES OOK: SterStatus top 20 vir dié Laevelder
In die opvolgboek word die drie niggies se verhaal verder vertel wanneer een nou probleemolifante red, die ander klimaatvlugtelinge in Mosambiek van mensehandel red en die derde een probeer om te verhoed dat die wildplaas, renosterskuiling en lodge deur die steenkoolmafia oorgeneem word nadat steenkoolriwwe daar ontdek word.
Parker is ‘n voormalige Laevelder-joernalis en die ervarings wat sy in haar tyd hier gehad het, het natuurlik ‘n groot rol in haar boeke gespeel. Sy sê sy het tydens haar verslaggewing oor renosterstropery op inligting afgekom wat nie eintlik ooit op die lappe gekom het nie, maar wat haar ‘n sterk storielyn vir haar eerste boek verskaf het.
LEES OOK: Mbombela culpable homicide case to commence
Sy het ook gebeure op die grens waargeneem wat haar aangespoor het om oor mensehandel te skryf.
“Vir boek nommer twee het ek tydens verslaggewing rondom orkaan Dineo in 2017 weer tydens besoeke aan die Lebombo-grens waargeneem hoeveel meer mense oor die grens stroom. Die menslike tragedie in Mosambiek het my aan die hart gegryp, asook die verhale rondom moontlike mensehandel in die reddingskampe.
“Van my verslaggewing later terwyl ek ‘n radioverslaggewer was, was rondom die stryd om steenkoolmyne van die Krugerwildtuin se omgewing weg te hou. Dit het my ook gedwing om die tema verder te ondersoek en by die storielyn te voeg.”
Besoeke aan die Makhonjwaberge en Barberton voor en nadat dit as wêrelderfenisgebied verklaar is, het haar genoop om hierdie besonderse natuurwonder ook deel van die storielyn van die tweede boek te maak. “Tydens ‘n besoek aan antistropingveldwagters in Mosambiek, het ek ‘n vlakvark by name Varkie leer ken. Ek werk hom in beide die boeke in as ‘Snorkie.'”
LEES OOK: Beweerde swendelaar stel haar kant van die saak
Parker sê van die karakters in beide boeke is losweg gebaseer op die omgewingsridders en sosiale hervormers, asook van die skurke op vele gebiede wat sy tydens haar werk by Laevelder en haar verblyf in Mbombela leer ken het.
“Die twee jaar van verslaggewing by Laevelder was die beste in my loopbaan as joernalis. Ek het goue herinneringe aan naweek op naweek in die Krugerwildtuin, Hoedspruit, Hazyview, Witrivier en Komatipoort.
“Niks klop die Laeveld as dit by intrige, spanning, drama en eksentrieke mense kom nie.”
Parker se derde boek in die reeks, Voor die koraalbome blom, sal einde 2024 verskyn.


