Local news

Epiese recce-aand by Nagkantoor propvol intense stories en kwinkslae

Die recce-aand wat in Kaapsehoop aangebied is, was beslis 'n hoogtepunt wat nie gou vergeet sal word nie.

In ‘n stampvol saal, wat slegs 110 gaste kan akkommodeer, het 120 belangstellendes aan die seremoniemeester, Theo van Huyssteen en die aanbieders, Klein Jakes Jacobs en Chris Serfontein, se lippe gehang. 

Serfontein het die verrigtinge met ‘n inleidingstoespraak en agtergrond van die spesmagte oftewel reccebond afgeskop, hoe die struktuur tans daarna uitsien en die huidige doel en funksies.

Agter: Danie Schutte, Jakes Jacobs, Wilco Meyer, Chris Serfontein, Shaun Mchaffie, PG Joubert, Anton Weyers en Joe Lawrenson. Voor: Theo van Huyssteen, Chris Blunden, SW Fourie, Koos Krokodil, Oele Grünstad, Prins Ferreira en Anton Bothma. > Foto: Verskaf

Jacobs het meer spesifiek oor geheime oorgrensoperasies gesels.

Hy het onder meer vertel van die operasies waarin die eenheid destyds betrokke was, die inoefeninge voor die tyd, die verloop van die gebeure en die uitkoms daarvan.

Lees ook: Hoërskool Nelspruit-leerder laat motorfiets vir KANSA brul

Jacobs het verder oor die intensiewe opleiding wat ‘n recce moes deurgaan, uitgebrei, sowel as van die ontberinge wat hulle tydens operasies moes deurmaak.

Die gesprekke was darem nie alles ernstig nie, die gehoor het geskaterlag toe Jacobs vertel het dat hy vir een van die operasies vir 28 dae in ‘n boom moes sit.

Volgens van Huyssteen het daar ‘n feestelike atmosfeer geheers.

Willie Nel het vir lekker musiek gesorg en daar is luidkeels saam gesing en tot vroegoggend saam gekuier.

Een van die gaste, Yolanda Geldenhuys was in vervoering oor die aand.

Klein Jakes Jacobs. > Foto: Verskaf

“Dit was absoluut fantasties.”

“Dit was so ‘n epic bymekaarkom-geleentheid. Dit was heerlik vrolik en ‘n aand van baie lag, maar ook diep insig oor goed waaarvan ons nie eers geweet het nie. Dit was glad nie polities georiënteerd nie, net feitlik. Die atmosfeer, die gevoel van mense om jou, die vrolikheid, en die weer wat mooi saamgespeel het, alles het net goed uitgewerk. Dit het gevoel asof ons almal mekaar al jare ken, want ons almal kom uit dieselfde geskiedenis, en dieselfde milieu en verlede.”

“Die gevoel van hartseer oor wat met ons land gebeur en geword het was baie intens tussen almal. Maar daar was nie een oomblik ‘n negatiewe politiese gevoel nie. Dit aand het gegaan oor die passie vir ons land se geskiedenis en die trots wat ons jong manne en vroue gehad het en die absolute vermoë oor wat Suid-Afrika gehad het.”

“Die aand was ‘n ongelooflike ervaring en ek is bitter jammer vir diegene wat dit misgeloop het. Dit was ‘n stukkie geskiedenis wat met liefde en passie gedeel is. Dit was net wow. Ek het nie genoeg woorde om die aand te beskryf nie,” het Geldenhuys gesê.

Gaste tydens die geleentheid. > Foto: Verskaf

Vir diegene wat hierdie spesiale aand misgeloop het, is daar goeie nuus. Van Huyssteen vertel dat hulle volgende jaar weer so ‘n geleentheid beplan.

“Dit sal ‘n meer oop gespreksforum wees, min of meer soos ‘n Toks en Tjops-rusbankatmosfeer, met bietjie meer humor en interaksie met die gehoor,” het hy gesê.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button