Toeka se dae is weer relevant met kranslegging op Lydenburg
Die ryk geskiedenis van dié dorp se stigting, soldate wat in verskeie oorloë geveg het, krygsgevangenes en konsentrasiekampslagoffers is herroep.
Die Burgermonument is ‘n merkwaardige huldeblyk aan die plaaslike pioniere wat ‘n belangrike rol in die vorming van dorp en die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel het.
Om te verhoed dat hierdie geskiedenis verlore gaan, word ‘n jaarlikse kransleggingseremonie by die monument gehou.
Die seremonie is op 13 Oktober in die NG Moedergemeente se tuine gehou, en die verrigtinge is deur ds. Johan Koen jr. van die kerk geopen.

Christo Swart, ‘n geskiedeniskenner en die skrywer van Wat het gebeur op Verraaiersnek?, was die gasspreker. Hy het etlike interessanthede oor Fort Mary en die bekende Lydenburg Kruithuis, asook grepe vanuit Lydenburg se geskiedenis, gedeel.
James Hart, adjudantoffisier klas 1, het ‘n krans ter nagedagtenis aan die burgers wat tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902) op die slagveld gesneuwel het, gelê. Die Christelike Verenigde Onderwys Lydenburg (CVO Skool) het 10 kranse ter ere aan die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe in dié oorlog gesterf het, gelê.

Laerskool Lydenburg het hulde aan die oudstryders wat oorsee in konsentrasiekampe was, asook dié wat daar gesterf het, gebring. Martie Bezuidenhout het namens Afri-Forum Lydenburg ‘n krans ter herdenking aan die slagoffers van plaasaanvalle gelê.
FOTO’S: Geure wat die mond laat water by Longtom Potjiekoskompetisie buite Lydenburg
Hoërskool Lydenburg se krans is aan die pioniere wat uitsonderlike diens aan die land gelewer het, opgedra. Kol. Ludi Schulze het onder meer hulde gebring aan die troepe en hul familielede wat tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog gesneuwel het. Hierdie oorlog, vanaf 1966 tot 1989, is ook as die Bosoorlog of die Angola-Grensoorlog bekend.
Tradisioneel word die kranslegging altyd aan die pioniere van die dorp opgedra. Hulle is ds. H.J. Neethling (NG predikant tydens die Tweede Vryheidsoorlog), dr. C. Manning (mediese dokter tydens die Tweede Vryheidsoorlog), Landdros Jansen (landdros op Lydenburg, 1866-1895), Meester Willem Poen (die eerste onderwyser op Lydenburg), Willie Steyn (een van die vyf swemmers wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog, onderweg na ballingskap op Ceylon, ontsnap het), en Elias de Souza (lid van die Volksraad).
Lees ook: Krugerwildtuintroue: ‘n Ware ervaring






