Vreugde in Lydenburg- en Badfonteingebiede nadat Landelike Forum appèlhofsaak oor belastingtariewe wen
Grondeienaars en boere van die omgewing geniet 'n gesellige vergadering na besige jaar.
Die Thaba Chweu Landelike Forum het op 4 Oktober vanjaar sy algemene jaarvergadering in die Lewende Woord se kerksaal gehou.
Die voorsitter, Eric Johnson, het lede aan die Rubicon-vergadering herinner wat ‘n jaar vantevore op dieselfde plek gehou is. Die lede moes besluit of hulle bereid was om vir ‘n volgende regsronde vir die appèlhofsaak teen Thaba Chweu Plaaslike Owerheid op te dok.
‘n Regsbank van vyf appèlhofregters het die saak in November aangehoor en die forum met ‘n uitspraak in Maart vanjaar gelyk gegee.
Lees ook: Toeka se dae is weer relevant met kranslegging op Lydenburg
‘n Verdere aansoek deur die Thaba Chweu Plaaslike Owerheid om na die konstitusionele hof te appelleer, is met kostes van die hand gewys.
Die forum is dankbaar dat sy pogings om die lede se belastingrekenings volgens die wet reggestel te kry, geslaag het.
Met behulp van plaaslike rekenmeesters het hulle reeds stappe geneem om die lede se rekeninge ingevolge die appèlhof se uitspraak te herbereken. Thaba Chweu het die forum genader om saam te vergader sodat die proses aan die gang kan kom.
Lees ook: Du Toit-Smuts & Vennote Prokureurs en Laevelder samel saam R180 000 vir liefdadigheid in