VIDEO: Drie van Kruger se Groot 5 saam op een video ‘n geseënde oomblik vir Wilna en gesin
Om drie van die Groot 5 saam op een video te vang is beslis ongewoon - maar was onlangs vir Wilna en haar gesin by Onder-Sabie 'n werklikheid.
Om drie van die Groot 5 saam te verfilm is baie ongewoon, en beslis ’n seëning vir menige wildfotograwe. In vandeesweek se Wilde Woensdag saam met Wilna deel Wilna Wheater ’n video wat sy en haar seun in die Nasionale Krugerwildtuin geneem het.
Dié ongewone gebeurtenis het Wilna en haar gesin op Vrydag, 22 September, te beurt geval toe hulle vroegoggend die Krugerwildtuin by die Krokodilhek binnegegaan het.
Lees ook: Wilde Woensdag saam met Wilna Wheater
Wilna vertel dat hulle by Onder-Sabie ’n vinnige stop gemaak het vir ’n besoek aan die ablusiegeriewe, waar hulle ook sommer bene gerek het en met ’n vinnige wegneemkoffie vir almal by Mugg & Bean keel natgemaak het.
Lees ook: FOTO’S: ‘Wilde Woensdag saam met Wilna’ fokus op van haar pragfoto’s
“Terwyl my man, Allen, vir ons koffie wag, staan ek en my seun, Wayne, en sy meisie, Michelle, by die houtreling en oor die Sabierivier uitkyk. Ons was bitter gelukkig om twee van die Groot 5 langs die rivier te sien, naamlik die olifante wat mekaar opmeet en ’n buffel. My man het my geroep om die koffie te help dra, en my seun het die kamera oorgevat en verder afgeneem.”
Wat volgende voor hulle afgespeel het, was ’n groot verrassing.
“Die volgende oomblik kon ons ons geluk nie glo nie. Daar daag ’n luiperd op. Drie van die Groot 5 in een videoskoot is baie ongewoon en beslis geseënd. Ons was so dankbaar vir die geluk wat ons te beurt geval het. Dit was ook skreeusnaaks gewees. Want dit was so goed jy sê mes. Een persoon by ’n tafel het gevra waarna ons kyk, en toe ons hulle meedeel daar is ’n luiperd, toe storm al wat ’n restaurantbesoeker die houtreling en los hulle borde kos net so by hulle tafels om die oomblik ook op kamera vas te vang. Hulle was egter te laat, want die luiperd het onder ’n baie digte bos gaan wegkruip. Dit is daardie eenkeer-in-’n-leeftyd-gebeurtenis wat net vir ons beskore was. Ons was so dankbaar vir daardie buitengewone seëning. Dis al tweede natuur vir my om te bid en te vra dat die Here ons met ’n buitengewone besigtiging tydens ons Krugerwildtuinbesoeke sal seën. 22 September is ’n rooiletterdag wat ons altyd sal bybly. Die Here is altyd getrou!”
Video:
Lees ook: VIDEO: Krokodille verorber bok in Krokodilrivier by Marlothpark
Laevelders kan elke Woensdag na Wilna se foto’s en video’s wat sy in die wildtuin en Marlothpark vasgevang het, uitsien.
Die storie agter die beeldmateriaal sal ook verskyn. Hou Laevelder se blaaie op Facebook, YouTube, TikTok, Instagram en Twitter (X) dop.
Wil jy ook graag jou wilde wildtuinfoto’s en video-ervaringe met ons deel?
Stuur gerus ’n e-pos na bertus@lowvelder.co.za.
