Harte smelt na Laevelder honde-paar in Mbombela red
Eers het sy gesukkel om die honde gewoond aan haar te maak, maar na ’n ruk was dit so dat Susan Coetzee hulle kos kon gee en selfs ’n vryfie of twee inwerk.
Vir amper twee maande al maak die verhaal van Susan Coetzee wat twee rondloperhonde, ‘n reun en ‘n teef, onder haar vlerk geneem het, menige Laevelders se harte sag.
Coetzee, wat self ‘n groot diereliefhebber is, vertel dat sy op 8 Oktober reeds die reun opgemerk het toe sy en haar gesin op pad terug van die kerk af in Flambojantstraat af gery het.
“My kinders weet ek is baie lief vir diere, veral honde, en toe my dogter die hond langs die pad gewaar, sê sy sy dink hy makeer iets, dat hy dalk siek is. Op die punt van die straat het ek toe omgedraai en teruggery. Die reun het opgekrul langs ‘n sandhoop – dit het gelyk soos afvalboumateriaal – gelê.”
LEES OOK: Vlammies geniet ‘n strandpartytjiebederf
Sy sê sy het die kar summier gestop, uitgeklim en nader gestap, maar dat die hond, duidelik verwilderd, weggehardloop het en homself onder ‘n koelteboom oorkant die straat gaan tuismaak het.
“Ek het daardie oggend twee uur in Flambojant spandeer om weer te probeer kyk of ek enigsins nader aan hom kan kom, maar my pogings was onsuksesvol. Van toe af het die hond by my gespook,” het Coetzee gesê.
Die volgende oggend het sy haar na die Facebook-blad Lost and Found Pets Lowveld gewend om te hoor of enigiemand in die gemeenskap dalk na dié hond op soek is. “Daarop het iemand ‘n plasing gemaak van twee honde wat langs die Kaapsehoop-pad in die gras lê.”
Coetzee vertel dat sy gery het om te gaan kyk na watter honde hulle verwys. “Jy sal nie glo nie, maar toe lê die einste reun daar saam met ‘n teef!” sê sy aan Laevelder.
Anders as die reun, wat weer die hasepad gekies het, was dit merkbaar dat die teef wik en weeg oor wat haar te doen staan toe Coetzee haar met kos nader.
LEES OOK: Sinani Arts Academy enthrals audience in Mbombela
Op die Facebook-groep het sy versoek gedoen dat mense wat die honde gewaar, haar kontak. “Ek het ook die DBV in kennis gestel, en hulle het geantwoord dat ook hulle al vele kere probeer het, maar dat dit ‘n onmoontlike taak is om hulle te vang.
“Ek het die DBV laat weet dat ek bereid is om moeite met die honde te doen.”
Van toe af het Coetzee gereelde berigte oor die honde en haar vordering met hulle op Facebook geplaas. Sy het onder andere dié twee se skuilplek midde in die bosse op die hoek van Dr Enos Mabuza-rylaan en Amaryllislaan gevind en vir hulle ‘n tydelike skuilplek uit ‘n ou palet en kartonboks gemaak.
Hier het sy dag in en dag uit gesit en gewag tot die twee honde uitkom.
LEES OOK: FOTO’S: Laerskool Witrivier reis om die wêreld met revue
Coetzee vertel dat dit toe is dat sy besef die teef is redelik ver dragtig. “In die hardloop kon mens dit nie regtig sien nie, maar toe sy (uiteindelik) stilstaan en eet, kon ‘n mens dit duidelik opmerk.”
Ná die besef het sy weer ‘n plasing op die Facebook-groep gemaak, en van toe af stroom die kommentaar van die Laeveldse gemeenskap in.
“Mense het uitgehelp met hondekos en self vlooi- en bosluisgif vir dié twee geborg,” sê sy.
Coetzee het uiteindelik met die ondersteuning en aanmoediging van die gemeenskap dit Maandag, 6 November, reggekry om die teef in haar voertuig te laai en na Pro-Life Pet Rescue toe te neem.
Sy het die volgende oggend weer daar vir haar gaan kuier. “Sy was baie bly om my te sien!” vertel Coetzee met ‘n glimlag. “Daar is nog nie babatjies nie, maar dis baie naby.”
Coetzee vertel dat sy nog sukkel met die reun, maar dat sy vordering gemaak het net voor die teef weggeneem is. Op een van die plasings op die Lost and Found Pets Lowveld-groep skryf sy dat hy deur die nag aanhoudend gehuil het. “Hy mis sy teef.”
Die hoop is om dié twee te herenig, hopelik mét ‘n werpsel.

