VIDEO: Grootvoet in Kruger laat die modder spat
'n Grootvoet het vir groot pret in die Krugerwildtuin gesorg toe hy besluit het 'n modderbad is die antwoord op 'n snikhete dag.
Om ’n bosreus op ’n snikhete dag in die Krugerwildtuin naby die Krokodilbrughek te sien, was ’n prettige beeldmateriaaloomblik vir Wilna Wheater en haar gesin op Vrydag 22 September.
Wheater vertel dat dié sagmoedige reus heel rustig in die bos langs die S137 gestap het.
“Hy het ons aan die regterkant van ons bussie gevolg. Hy het gestop het om ’n bietjie water te drink en sy lyf met die reënwater nat te spuit.”
Sy vertel dat daar die Donderdagnag ’n ligte reënbui in die omgewing was, vandaar die water in die pad.
Lees ook: VIDEO: Krokodille verorber bok in Krokodilrivier by Marlothpark
“Hy het ’n paar meter verder aangestap en na regs geswenk tot by ’n groot modderbad wat vir hom hom aanloklik gelyk het,” vertel sy.
En dit is dan juis hier waar hulle groot pret met die flapoor beleef het, wat besluit het om homself, op die natuur se manier, af te koel.
Video:
“Dit was ’n versengende warm dag. Hy het homself vol modder gegooi. Dit het so lekker gelyk. Ek het nooit kon dink dat ’n modderbad vir ’n volgroeide olifant soveel pret kan besorg nie. Nie alleen sorg dit vir beskerming teen parasiete vir die olifante se vel nie, maar dit beskerm hulle velle teen die ongenaakbare Afrika-son.”
Lees ook: Wilde Woensdag saam met Wilna Wheater
Volgens Wheater was die krag en spoed wat hy die modder uit sy slurp geblaas het, geweldig.
“Ek het vir my man Allen gesê hy moet sy Volkswagen-bussie skuif, want van die modderklonte kon moontlik ’n duik in die bakwerk veroorsaak. Van die modder het amper op sy skoot beland. Dit was verstommend hoeveel krag die olifant met sy pote gebruik het om sy onderlyf vol modder gespat te kry, en met hoeveel krag hy daai modder in die lug ingeskiet het om sy rug en sye nat te spat. Party probeerslae was met sóveel krag dat die modder meters hoog die lug ingetrek het. Dit was ‘n ongelooflike ervaring.”
Lees ook: VIDEO: Drie van Kruger se Groot 5 saam op een video ‘n geseënde oomblik vir Wilna en gesin
Laevelders kan elke Woensdag na Wilna se foto’s en video’s wat sy in die wildtuin en Marlothpark gevang het, uitsien. Die storie agter die beeldmateriaal sal ook vertel word.
Hou Laevelder se blaaie op Facebook, YouTube, TikTok, Instagram en Twitter (X) dop.
Wil jy ook graag jou wilde wildtuinfoto’s en video-ervaringe met ons deel?
Stuur gerus ’n e-pos na bertus@lowvelder.co.za.
