Local news

Daaglikse verskyning van poue in Mbombela uiteindelik ontrafel

Die geheim van die 'mak' poue en die geroep van die visarend in West Acres is uiteindelik ontrafel, met behulp van hierdie gemeenskapslede en inwoners.

Vannuit die natuur se rustigheid in al sy glorie in West Acres te beleef, waar die gesig van ongeveer nege ‘mak’ poue en die geroep van visarende redelik aan die orde van die dag is, het die vraag ontstaan: van waar, Gehasie?

Dié poue is daagliks by wonings se grasperke te sien, of wanneer hulle straataf stap. Hulle is ook dikwels op die nokke van dakke te bespeur of hoorbaar, met hulle kenmerklike geroep wat vir sommiges baie na ‘n harde ‘help!’ klink.

Dié gesig kom veral in die Belladonna-, Van Rooyen-, Saffier-, Feijoa-, Tangelo- en Nartjiestraat se omgewing voor.

> Foto: Tiaan Schutte

Laevelder het by Piet en Esmé Small, wat in West Acres woon, gaan kers opsteek. Hulle kon so ‘n klein bietjie lig op die misterieuse onderwerp gooi. En soos dit klink, is al wat op die plot en van die eienaar se droom om ‘n klein privaat reservaat in die middel van West Acres te skep, oorgebly het, net ‘n paar poue en die nostalgiese geroep van die visarend.

LEES OOK: Die Laeveld nou Pieter Rischmüller se verhoog

Kyk jy op die internet se soekenjin onder padkaarte, is die perseel duidelik sigbaar. Die strate teen die grensdraad is aan Cinnamon- en Tangelostraat. Van Rooyen- en Belladonnastraat loop ook dood aan weerskante, duskant die perseel.

Die Small-egpaar vertel dat die 120 000 m² stuk grond in West Acres jare gelede glo aan ‘n sakeman van Nelspruit, die ene Nic Swart, behoort het. Op die kaart sien ‘n mens duidelik drie selfaangeboude damme, murasies en wat, soos Piet verduidelik, moontlik voëlhokke kon wees.

>Foto: Susan Meyer

“Daar was damme, daar was ook bokkies en natuurlik die poue. Ek verstaan dit was Nic Swart se perseel soos ek kan aflei, soos ek al met mense gesels het wat al jare hier woon. Daar was geen ander ontwikkeling nie, net die grond met ‘n groot hek,” sê Piet.

Hy vertel verder dat Van Rooyenstraat wat verby die perseel sou loop, by Belladonnastraat sou aansluit en dat dit die omvang van vandag se Enos Mabuzarylaan sou gehad het.

“Die perseel was baie mooi in stand gehou toe ek in 1995 hier aangekom het.”

Volgens Esmé, ‘n eiendomsagent van Taufield Properties, is daar tans visarende wat daar broei.

“Maar ons vermoed so, want hulle is die heeltyd bokant ons huis,” vertel sy. Die Small-egpaar bly in ‘n sekuriteitskompleks wat aan die perseel grens. Ons weet nie wat die plan met die grond was nie. Sover ek kon vasstel het hy die erf gekoop om huise te ontwikkel, maar vir die een of ander rede kon hy nie sover kom om die ontwikkeling van die grond af te kry nie. Hy het toe sy bokkies en voëls gekoop en dit daar gaan vrylaat. Maar die poue kom definitief van daar af. Hulle slaap in die nag nog steeds daar. Daar was ook ‘n spesifieke boom in ons kompleks waar die poue altyd kom sit het voor daar ‘n huis gebou is,” sê Esmé.

> Foto: Cizelle van Putten

Die massiewe perseel is erg bebos en oorgroei, maar baie sterk en elektries omhein. Esmé vertel verder dat die perseel met ‘n groot hek gepronk het. “Die hekke is ongeveer ‘n jaar en ‘n half gelede gesteel. Dit was sulke mooi groot swaar hekke en dit kon sluit,” sê Esmé.

Die hek waarna Esme Small verwys. > Foto: Bertus de Bruyn

Met Laevelder se besoek aan die perseel is die ingang goed met lemmetjiesdraad toegespan en blyk toegang feitlik onmoontlik te wees. Die Small-egpaar vertel verder so saam-saam dat sover hulle kon aflei, niemand nog ooit na die voëls kon gaan kyk het soos in ‘n voëlpark nie, en was dit maar net Swart se stukkie hemel op aarde.

“Maar dit is hoe ons dit verstaan. Verder weet ons nie veel nie, maar dit was jare gelede ‘n voëlpark, ‘n klein privaat wildreservaat waar hy glo ook bokkies aangehou het. Maar toe ons hier kom bly het was dit klaar tot niet. Wat van die diere geword het, weet ons nie,” sê hulle.

Die egpaar vertel dat hulle gereeld duikers in hulle buurt sien.

Tiaan Schutte, wat in die omgewing bly, het aan Laevelder vertel dat die poue so mak is dat hulle al amper uit sy hand kom eet. “As ek reg onthou was daar net een mannetjie en twee wyfies. Nou is daar nege. Hulle broei weer êrens in die bos. Ek is mal oor hulle. Hulle kuier baie hier by my op die buitekamer se dak onder die groot olienhoutboom. Hulle roep my vir kos, en as ek hulle roep, kom hulle nader gehardloop,” sê hy.

> Foto: Susan Meyer

By Cizelle van Putten se gesin draai die poue ook gereeld in hulle tuin. Sy het ook bevestig dat sover sy weet daar ‘n plot-affêre was waar daar poue en swane was.

“Die omie is oorlede. Daar’s damme ook. Ons het nou die dag daar gaan stap. Ons het nie die poue daar binne gesien nie, maar wel die damme, en die hokke wat oop staan. Ons het aangeneem die poue slaap soms ook daar omrede daar baie pouvere rondgelê het. Ons het ook toe verstaan hoekom ons die visarende hoor roep. Hulle vang seker visse in die damme. Dis toe dat ons by ander mense hoor dat daar swane was, en ander eksotiese voëls. Klink of dit ‘n paradys was, en ek kan dit glo. Dit is wel nou baie verlate, en ‘n mens kan sien daar bly al vir jare niemand,” sê van Putten.

Duncan McKenzie van Lowveld BirdLife het aan Laevelder genoem dat poue ‘n uitheemse spesie in Suid-Afrika is, en word deur natuurbewaarders as ongewens geag.

“Hierdie voëls het sy oorsprong in Suidoos-Asië en sal direk met ons plaaslike spesies vir kos meeding, soos die Natalse fisant, die hadeda en ander. Dit is ‘n lid van die Phasianidae-familie, wat hoenders, fisante en kwartels insluit, en as sodanig is dit relatief maklik om in gevangenskap te hou en is dit gewild op plase. Die voël word natuurlik hoogs deur voëleienaars bewonder, met sy skouspelagtige verekleed, maar aangesien hierdie voëls wild is, is hulle van geen belang vir bewaring nie,” sê McKenzie.

Is daar moontlik oudinwoners wat meer weet oor dié stukkie privaat wildreservaat van jare gelede?

Stuur gerus ‘n e-pos na bertus@lowvelder.co.za.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button