Ilana: ’n Klein vegtertjie tot die bittere einde
Maandag se laaste beroerte het Ilana Thomas in ’n koma gelaat. Sy is Donderdagoggend vroeg by haar ouerhuis oorlede.
Die afsterwe van klein Ilana Thomas (12) het die hele Lydenburg-gemeenskap in rou gedompel.
Ilana is Donderdagoggend, 1 Februarie, oorlede nadat sy dié week in ’n koma verval het. Haar ma, Elaine, het Dinsdag aan die koerant vertel dat Ilana Maandag ’n groot beroerte gehad het wat tot haar bewusteloosheid bygedra het.
Elaine het Ilana se afsterwe vroeg Donderdagoggend op Facebook bevestig.
Klein Ilana het die afgelope paar jaar moedig geveg nadat sy ongeveer vier jaar gelede met moyamoya-sindroom gediagnoseer is.
Sy is met Down-sindroom gebore. Ten spyte daarvan was sy hoogs funksionerend, kon sy besonders goed kommunikeer en het sy vir haar skool, Estralita Skool, gala geswem.
Lees ook: Nelspruit Voortrekker hanteer noodgeval flink
Moyamoya is ’n seldsame bloedvatafwyking waarin die karotisslagaar in die skedel geblokkeer of vernou word, wat bloedvloei na die brein verminder. Sy het op Kersdag 2021 haar eerste beroerte gehad wat tot die siekte se diagnose gelei het.
Die afgelope paar jaar het haar gesondheid geweldig verswak.
Ilana het ook ’n groot breinoperasie gehad om die bloedvate te probeer herstel om met bloedvloei te help, maar die operasie was ongelukkig onsuksesvol.
Sedertdien het sy verskeie beroertes gehad. As gevolg hiervan het sy die vermoë om te loop en praat verloor, asook die gebruik van haar hande.
Sy het mettertyd die meeste van haar bewegingsvermoë verloor.
Maandag se laaste beroerte het Ilana egter in ’n koma gelaat. Sy is Donderdagoggend vroeg by haar ouerhuis oorlede.
Sy was die afgelope jaar permanent op morfien vir die pyn.
Die begrafnisreëlings sal bekend gemaak word sodra dit gefinaliseer is.
