Baba Liam veg steeds om sy lewe in Rob Ferreira
Die klein vegtertjie, baba Liam, se gesondheid is steeds in die weegskaal waar hy om sy lewe veg in die Rob Ferreira Hospitaal.
Die kans is in hierdie stadium bykans nul dat die ernstige siek vyf maande oue baba, Liam van Straten, wat met erge hartdefekte in die Rob Ferreira Hospitaal lê, enige spesialisbehandeling gaan ontvang.
Liam lê met aangebore hartkwale in die hospitaal en veg vir sy lewe.
“Hy is ‘n regte klein vegtertjie en net sodra ons moedeloos raak omdat sy toestand versleg, flikker daar weer hoop in hom op,” sê Liza Labuschagne, Liam se ouma.
LEES OOK: Baba se gesondheidskrisis nou ‘n oorlewingstryd in Rob Ferreira
‘n Dag na sy geboorte in November 2024, het die dokters bevind dat Liam met ‘n gaatjie in sy hart gebore is.
Omdat daar nie ‘n staatskardioloog in die provinsie beskikbaar is nie, is hy inderhaas na die Steve Biko Hospitaal in Pretoria vir dringende ondersoeke en behandeling oorgeplaas.

Tydens die ondersoek is daar vasgestel dat Liam nie net vier verskillende hartdefekte het nie, maar dat een van die hartkleppe ook nie behoorlik ontwikkel het nie. Van die kwale wat gediagnoseer is, sluit onder meer ‘n erge infundibulêre pulmonale defek, ‘n afwesige longklep en ‘n hartletsel in.
Hy is ná die behandeling in die sorg van sy ouers, Judy Wolmarans (21) en Petrus van Straten, by die huis gelaat.
Hy het egter weer siek geword en is vroeg in April weer in Rob Ferreira opgeneem. Sy gesondheid het sedertdien wipplank gery en hy is uiteindelik na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas.
LEES OOK: Verwaarlosing moontlik die oorsaak van Rob Ferreira-pasiënt se dood
Hy het intussen ook sporadies aanvalle begin kry wat sy gesondheid verder destabiliseer het.
Labuschagne sê Liam het dringende spesialisbehandeling van ‘n pediatriese kardioloog nodig, maar tot dusver kon daar nog nie een gevind word wat vir die staat werk nie. Liam kan ook nie na Steve Biko oorgeplaas word nie omdat sy toestand nog té kritiek en onstabiel is.

Selfs Pediatric Care Africa (PCA) se dr. André Hattingh, het ingespring om te help.
Hy sê hulle het elke uitweg denkbaar tot hulle beskikking gebruik om ‘n bed vir Liam te kry. “Ons kon nie ‘n bed in Gauteng, die Vrystaat of die Kaapprovinsies kry nie,” lees ‘n boodskap wat PCA wat aan Labuschagne gestuur het.
Liam is die afgelope twee weke bykans pal op 100% suurstof, maar net sodra hy daarvan gespeen word, begin sy asemhaling sukkel.
In hierdie stadium bestaan daar ook ‘n vermoede dat Liam moontlik breinskade opgedoen het.
Hy het intussen ‘n komputer-tomografieskandering (CT) ondergaan en daar is vasgestel dat daar moontlik kliniese brein-probleme mag wees.
“Om die omvang van die skade te bepaal, moet daar ‘n magnetiese resonansiebeelding (MRI) gedoen word. Liam kan eers hiervoor gaan as hy in geheel van die ventilator gespeen is,” sê Labuschagne.
Intussen haal sy haar hoed af vir die behandeling wat Liam van ‘n dokter wat haar internskap by Rob Ferreira doen, ontvang.
“Sy en haar hele span verpleegpersoneel doen die beste wat hulle onder die moeilike omstandighede kan.”
