Mbombela Boulevard teater maak gereed om die gordyn te lig
Dit sal die eerste vertoning wees met die bekende kunstenaars, Jannie du Toit en Thean Kotze, wat ’n huldeblyk aan die Afrikaanse liedjieskrywer, Lucas Maree, sal bring.
Die nuwe Boulevard-teater in Sonpark is gereed om die huisligte uit te doof en in die kollig te staan met sy debuutvertoning, Kiekies – Lucas se liedjies, op Donderdag, 26 Junie. Dit sal die eerste vertoning wees met bekende kunstenaars, Jannie du Toit en Thean Kotze wat ’n huldeblyk aan die Afrikaanse liedjieskrywer, Lucas Maree bring.

Laevelders sal na Maree se grootste treffers soos Droomvrou, Sunnyside, Victoriabaai en nog vele meer kan luister. Kotze gaan ook Maree se bekende korverhaal, Karoo, in ’n hartroerende optrede voordra.
Lees ook: Musiekteater uit die boonste rakke by Innibos
Die eienaars van die teater, Kobus Jacobs en Koos Schoonraad het saam die teater tot stand gebring en is deur die Fadu-intieme teater in Portugal geïnspireer. Jacobs en sy vrou Sandra het in Lisbon gereis en op die klein teater afgekom wat so min as 30 mense op ’n slag inlaat. Hulle het ook ’n behoefte in die gemeenskap gesien om ’n plek vir Laevelders te begin om funksies en konserte te hou.
“Ons hoop dat hierdie teater mense in die Laeveld bymekaar sal bring en dat akteurs, dansers en selfs plaaslike kunstenaars hier vertonings of funksies sal hou” het Schoonraad gesê.
Lees ook: Een persoon word 15 in Innibos-teaterstuk
Die teater het 110 sitplekke vir gaste en het ook ’n kroeg waar drankies voor die vertoning bestel kan word. Die teater beplan om een of twee keer ’n maand ’n nasionale kunstenaar uit te nooi en die inwoners kan ook begin uitsien na ’n volgende vertoning met welbekende Elsabé Zietsman wat op 26 Julie by die teater sal optree.
