Watervalrivier-boere gemaan om waaksaam te wees ná plaasaanval
"Een plaasaanval is een te veel. Die impak van sulke voorvalle strek veel verder as net die slagoffers - dit raak die werkers, hul gesinne, die plaasgemeenskap én die breër landbou-ekonomie," het die organisasie gesê.
‘n Plaaswerker is lig beseer ná ‘n aanval deur vyf gewapende mans op die Watervalrivierpas buite die dorp. Die voorval het Sondagoggend, 6 Julie, omstreeks 08:00 plaasgevind.
Volgens inligting was die boer en sy gesin nie tuis ten tyde van die aanval nie.
Agri Limpopo het bevestig dat vyf verdagtes – twee Suid-Afrikaners en drie Zimbabwiërs – op die plaas toegeslaan het.
Volgens die Limpopo-polisie is die plaaswerker lig beseer. Daar word beweer dat die werknemer wat aan diens was, gesien het hoe een van sy werkgewer se voertuie op hom afgejaag het.
Die voertuig, ‘n wit Toyota Corolla, het langs hom stilgehou, waarna die gewapende mans uitgespring en hom oorval het. Hulle het hom vasgebind en van ‘n onbekende bedrag kontant beroof.
Die slagoffer het daarin geslaag om homself los te maak en het die ander werknemers en sekuriteitspersoneel gewaarsku. By sy aankoms by die huis het hulle ontdek dat die rowers reeds ingebreek en verskeie items gesteel het – onder meer ‘n brandkluis met vuurwapens en kontant.
Volgens die polisie het die kluis vier wettig geregistreerde vuurwapens, ammunisie met verskeie kalibers en ander waardevolle items bevat. Die verdagtes het glo die slagoffer se voertuig gebruik om die plaas se heining oop te dwing tydens hul vlug.
Die Corolla is later verlate en beskadig op die eiendom gevind. Die gesteelde kluis is ook naby aan die voertuig gevind – oopgeforseer, met die inhoud verwyder.
Die polisie het ‘n intensiewe soektog na die verdagtes van stapel gestuur.
Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembi Hadebe, het die onmiddellike mobilisering van ‘n toegewyde taakspan gelas om die verdagtes op te spoor en die gesteelde vuurwapens terug te kry.
“Die onwettige besit van vuurwapens deur misdadigers bly ‘n groot bedreiging vir openbare veiligheid. Ons sal nie rus totdat hierdie gevaarlike individue gearresteer en die gesteelde wapens teruggevind is nie,” het Hadebe gesê.
Lees ook: Tweede plaasaanval in vyf dae ruk gemeenskap van Roossenekal en Lydenburg
Agri Limpopo het die aanval skerp veroordeel.
Volgens die organisasie was die plaaswag van Burgersfort, lede van die boerevereniging, reaksie-eenhede en die polisie vinnig op die toneel. Die polisie se snuffelhonde het die verdagtes se spoor tot by die teerpad gevolg, waar vermoedelik ‘n voertuig op hulle gewag het om hulle verder te vervoer.
Agri Limpopo het sy opregte dank uitgespreek teenoor almal wat vinnig opgetree het en bystand gebied het.
“Een plaasaanval is een te veel. Die impak van sulke voorvalle strek veel verder as net die slagoffers – dit raak die werkers, hul gesinne, die plaasgemeenskap én die breër landbou-ekonomie,” het die organisasie gesê.
Die polisie doen ‘n beroep op enige persoon met inligting wat tot die opsporing van die verdagtes kan lei, om dringend lt.kol. Evans Makgopa by 082 855 0117 te kontak, die Misdaadstop-nommer 08600 10111 te bel, die My SAPS-app te gebruik of by die naaste polisiestasie aan te meld.
