VIDEO: Hare waai en brand in Mbombela-teisteringsaak
‘n Hareklowery oor verlengingstukke het in die hof gedraai.
Om ’n mooi haredos te hê, is nie noodwendig ’n gegewe nie.
’n Uitspraak vandag in die Nelspruit-landdroshof het ’n haarklowery oor verlengstukke tot ’n einde gebring.
Melissa Goetze se Facebook-smeerveldtog teen ’n haarverlengingkundige (hair extensionist) is in die kiem gesmoor toe ’n tydelike beskermingsbevel teen haar permanent gemaak is, en die hof haar gelas het om haar plasings op sosiale media te staak.
Die haar-sage het vroeër vanjaar begin toe Goetze by El Shaddai Hair Health Image aangeklop het vir haarverlengstukke.
Nadia Alberts, eienaar van die salon, is volgens haar getuienis hoogs gekwalifiseerd in dié veld.
Sy bemark op haar Facebook-blad dat sy onder andere Russiese, Viëtnamese en Brasiliaanse ingevoerde hare gebruik.
Dié hare kan gekleur, gekrul en met strepies opgekikker word, en kan met die regte behandeling tot twee jaar lank mooi vertoon.
Haarstukke nie na wense
Goetze het op 15 Februarie haar kop by El Shaddai gaan opkikker met verlengstukke.
Byna twee maande later, op 8 April, het sy vir Alberts laat weet dat haar hare sleg vertoon, waarna dié haar genooi het om terug te keer na die salon om vas te stel wat die fout kon wees.
In WhatsApp-boodskappe tussen die twee partye, wat deel van die hofsaak uitgemaak het, het Goetze vir Alberts gedreig dat sy haar tot Facebook en Laevelder gaan wend om haar lot te bekla.
LEES OOK: Wees renosterbulletjie stabiel en sterk ná hiënas se aanval in Krugerwildtuin
Hierna het Goetze vir Alberts op 11 April geblok en ’n dag later haar dreigemente uitgevoer en die kwessie breedvoerig op Facebook beskryf.
Sy het geplaas dat sy geskok was om te verneem dat sy “koeke erger as dreadlocks” op haar kop gehad het.

Volgens die plasing kon sy na agt ure, baie behandelings en die verlies van hare weer asem haal.
Sy het ook foto’s en video’s van haar gekoekte kop op die platform gedeel.
Alberts se regsverteenwoordiger, Helene Viljoen, het Goetze oor die aard van haar plasings gewaarsku, gesê daar is alternatiewe forums waar sy haar klagtes kon opper, en dit duidelik gemaak dat Alberts nie sal skroom om haar vir skadevergoeding te dagvaar nie.
Goetze is gemaan om die Facebook-plasings te verwyder, en Alberts het ’n interim-beskermingsbevel teen haar verkry, waarna Goetze aangedui het dat sy dit gaan opponeer.
Gesmelte hare by hof ingedien
Tydens een van die hofverskynings het Goetze met haarmonsters opgedaag wat sy gebrand het – na bewering dieselfde verlengings wat Alberts op haar kop gebruik het. Dié is as bewysstukke ingedien.
In haar getuienis het Goetze aangevoer dat die gesmelte hare bewys is dat die haarstukke nie werklik menshare was nie, maar eerder sinteties van aard.
Sy is deur haar regsverteenwoordiger, Jacques Smith, bygestaan.
Alberts het ontken dat die monsters uit haar salon gekom het.
Sy het teruggekap en getuig dat Goetze nie die instruksies gevolg het oor hoe om na die haredos om te sien nie.
Wat jy saai, sal jy maai
Landdros Bernard Luvhimbi het Alberts se weergawe van gebeure aanvaar en haar getuienis as geloofwaardig beskou.
Hy het voorts gesê dat daar nie genoeg bewyse voorgelê is om Goetze se bewering dat die hare nie eg was nie, te staaf nie.
Die voorlopige beskermingsbevel is permanent gemaak, en Goetze is verbied om enige plasings oor Alberts of El Shaddai op sosiale media te maak. Sy moet ook ophou om haar te dreig.
’n Verligte Alberts het ná die verhoor die media te woord gestaan en gesê die saak moet dien as ’n waarskuwing dat mense mekaar met respek moet behandel.
Sy het gesê haar pa het haar geleer om ’n goeie lewe te lei en dat sy vir die Here lewe en kies om die regte pad te stap.
“Wat jy saai, sal jy maai,” het Alberts gesê.
