Local news

Die Natsteen- en Boekenaweek was weer nommerpas

Dis twee geleenthede wat elke jaar net groter en beter word - moet dit beslis nie misloop nie!

Die afgelope boekenaweek was weer eens ‘n reusesukses en die weer, in teenstelling met verlede jaar se bibberkoue, het meer as lekker saam gespeel en dit het die naweek behoorlik in vyfde rat geplaas; die Innibos Boekenaweek was kookwater!

Die naweek het met ‘n poësiewerkswinkel afgeskop wat deur die ATKV, onder leiding van prof. Bernard Odendaal aangebied is en dit is deur sowat 16 aspirantdigters bygewoon is.

LEES OOK: Poësienaweek in die berg: ’n Digterlike belewenis om te onthou

Daarna het die klem na die Pronia-kapel verskuif waar die boekbesprekings aangebied is.

Die kapel was stampvol tydens Dana Snyman, ‘n inwoner van Kaapsehoop, se bespreking oor sy boek, Wie de hel is Johnny Joubert? Notas van ‘n rugbyliefhebber, wat van die goue draad wat rugby in sy lewe verteenwoordig, vertel.

Die gesprek is deur Pieter Steyn gelei.

Debuutskrywer PJO Jonker se boek, Die Onsigbare, het heelwat belangstelling gelok en is vir ‘n Eugène Marais-debuutprys benoem. Die gesprek is deur Susan Booyens waargeneem.

Luna Paige het die aand met ‘n konsert in die kapel afgesluit.

@lowvelder

Luna Paige betower die boekwurms by die Toyota Innibos Boekenaweek op Kaapsehoop met haar magiese stem. Môre oggend skop die aktiwiteite om 10:00 af met Marita van der Vyfer wat met Madelaine Paige oor haar boek, My jaar van vrees en vryheid, gesels! Laevelder is dan weer terug op hulle pos om al die hoogtepunte van hoofstuk twee van dié geleentheid te deel. #boekenaweek #innibos #lunapaige

♬ original sound – Lowveld Media

Saterdag was ‘n druk program en ‘n volledige artikel oor elke boekbespreking sal binnekort op Laevelder se webtuiste gepubliseer word.

@lowvelder

Dana Snyman lees een van die gedigte uit Merang voor. Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees #boekenaweek #danasnyman #innibosnasionalekunstefees

♬ original sound – Lowveld Media

‘n Hoogtepunt was beslis Words in My Mouth, ‘Let’s talk poetry’ wat deur bitter min mense bygewoon is, maar dit was ‘n emosionele belewenis wat die trane laat rol het.

LEES OOK: Jong skrywer bring vars stem na Laeveld se Boekenaweek

@lowvelder

Six poets of Mpumalanga’s Words in My Mouth Poetry Slam are making waves with their spoken word performances.

♬ original sound – Lowveld Media

Daar word van harte gewens dat die plaaslike digters voortaan met baie meer entoesiasme ondersteun sal word.

Die aanbieding was van hoogstaande gehalte, en dié ongeslypte diamante wat hier opgetree het, verdien landswyd ‘n plek op groot verhoë.

@lowvelder

Dag 2 van die Toyota Innibos Boekenaweek skop af in die Kapel op Kaapsehoop, waar bekroonde skrywer Marita van der Vyfer saam met Madelaine Page gesels oor haar boek, My Jaar van Vrees en Vryheid. #boekenaweek #innibos2025 #maritavandervyfer

♬ original sound – Lowveld Media

Annemarie van der Walt is hoogs tevrede met die verrigtinge en bedank almal wat die boekenaweek moontlik gemaak het.

@lowvelder

Die Toyota Innibos Boekenaweek is gereed vir die boekbesprekings. Annemarie van der Walt gesels met Laevelder. #innibos2025 #kaapsehoop

♬ original sound – Lowveld Media

Sy bedank die ATKV en Citybug wat gehelp het met vervoer van die skrywers vanaf die KMI-lughawe tot by die Kaapsehoop Silvermist-gastehuis, die Pronia-kapel, Nagkantoor en ook vir De Wet Potgieter.

Van der Walt het vir Laevelder gesê: “Dit is goed bygewoon, maar ek is effe bekommerd oor die afwesigheid van ons jonger (30-40) lesers, maar ondanks die besige naweek in die Laeveld, is Toyota Innibos dankbaar vir die suksevolle byeenkoms.”

Haar boodskap aan alle boekwurms is dat jy moet lees!

LEES OOK: Topskrywers kom gesels op Kaapsehoop diè naweek

“Daar is redelik min geleenthede in die Laeveld om topskrywers te ontmoet en te hoor praat oor hul werk: Innibos bring die skrywers, en lesers moet die kanse aangryp. Verbreed jou leefwêreld.”

En is daar al ‘n idee waarna boekwurms volgende jaar kan uitsien?

“Nee gits, ek moet eers alles verwerk! Maar Innibos sal altyd ‘n vars wending neem.”

Gewis kan ons daarop staat maak want met groot skrywers soos Marita van der Vyver, Dana Snyman, Peter Stoffberg en ‘n rits ander skrywers, kan die boekwurms na ‘n propvol en genotvolle program vir 2026 uitsien.

@lowvelder

♬ original sound – Lowveld Media

Sondagoggend is met sowat agt boekenaweekgangers wat hulle gunstelinggedigte voorgelees het, afgerond.

Sielskos!

Die gewilde Natsteen Naweek wat ook aangebied is, was by uitstek een vir die kroeg!

Met geskenkpakkies is al die oudjoernaliste verwelkom, daar is heerlik saam gekuier en gelag en Saterdagaand is die naweek met ‘n onvergeetlike spitbraai afgesluit.

De Wet Potgieter en Isobel Jackson van Nagkantoor is verstom oor die wonderlike opkoms wat die Natsteen Naweek te weeg gebring het.

“Dit is ‘n wonderlike inspuiting en goeie bemarking vir Kaapsehoop. Die inwoners, gastehuise en klein besighede moet bedank word vir hul bydrae om elke gas spesiaal te laat voel. Die grondpaaie en staproetes word voortdurend in stand gehou en die komitee moet in besonder uitgesonder word vir hul onbaatsugtige werk,” sê Jackson.

Die Natsteen Naweek is die breinkind van De Wet Potgieter, oud-ondersoekende joernalis en skrywer van sewe nie-fiksie boeke.

Dit is juis sy passie vir die koerantwêreld waarin hy as joernalis en nuusredakteur by die mees prominente Engelse en Afrikaanse nuusblaaie, met uitsondering van Volksblad en Oosterlig, gewerk het, wat hierdie naweek tot stand gebring het.

As inwoner van Kaapsehoop en eienaar van Nagkantoor Kaapsehoop Kuierkroeg, het hy gevoel dit is die regte plek om so naweek aan te bied. Die eerste Natsteen was in 2023 en die opkoms was sowat 30 joernaliste. Voormalige redakteurs van koerante en in die SAUK se nuusomgewing het dit bygewoon.

Verlede jaar was ook suksesvol en toe is De Wet gevra of die Innibos Boekefees ook hierby kan aansluit.

Vanjaar was ‘n wegholsukses met 60 plus joernaliste wat opgedaag het.

Bekende en opkomende skrywers en digters se boeke is hier bekend gestel.

Volgende jaar se datum is so pas bekend gemaak en almal kuier weer volgende jaar vanaf 29 tot 30 Augustus saam.

Onderhandelings is reeds aan die gang om die regte kunstenaars vir Vrydagaand te kry om die naweek op gepaste wyse in te lui.

Saterdag sal almal die geleentheid kry om met en onder mekaar staaltjies en stories om die kampvuur uit te ruil; dit is immers die rede waarom die Natsteen Naweek aanvanklik gestalte gekry het. Van vanjaar se gaste het reeds aangedui dat hulle volgende jaar se boekenaweek gaan bywoon.

Duidelik het De Wet met sy besondere aanvoeling drie jaar gelede iets begin wat weer opwinding en samehorigheid onder die joernaliste gebring het.

Kaapsehoop bring sy eie bekoring en die omgewing is perfek vir so ‘n Natsteen Naweek.

Jenine Coetzer, oud-RSG-joernalis, het soos volg oor die afgelope naweek gereageer:

“Dit was my tweede Nagkantoor Natsteen/Innibos Boekenaweek al die pad van die Kaap af, en dit gaan beslis deel van my jaarlikse kalender-inskrywings bly!

Al die boekgesprekke was interessant én leersaam/insiggewend – ek sien uit om my stapel aankope rustig onder oë te kry. Behalwe die boek-deel van die naweek, was die weersiens met soveel oudkollegas en vriende van oral oor, die opvang en baie lag, een van mý groot vreugdes!

Komplimente en ‘n groot dankie aan álmal wat dié jaarlikse bymekaarkom organiseer – die skrywers, puik gesprekleiers, die vermaak, die Natsteen-braai, die hele twee dae pakket op die mooie Kaapsehoop! Dié kat kom beslis weer!”

Madelaine Paige – joernalis skryf so oor die naweek:


“Dis amper soos ’n reünie waarna jy weke voor die tyd begin uitsien.

Ongelukkig maak die lewe letterlik soms Kaapse draaie, en jy besef jy gaan nie die jaar daar kan wees nie. Werk meng mos altyd in met plesier. Totdat Annemarie (An) van der Walt bel, want dan verander jy onmiddellik jou planne.

Dankie tog!

Vanjaar was een van die opwindendste ATKV Innibos Boeke/Natsteen-naweke ooit.

Kaapsehoop het gebruis en die atmosfeer rondom De Wet Potgieter se Nagkantoor Kuierkroeg was vol lewe met musiek, lag, stories, herinneringe en sommer net opvang. Isobel Jackson het gesorg dat die Natsteen-kuier seepglad verloop.

En natuurlik het die selfone oortyd gewerk soos almal foto’s geneem het. Die blinkste ster was sonder twyfel die Potlood-woef wat ook op al die T-hemde, broeke en hemde pryk wat te koop aangebied word. Jy kan hom ook in biervorm drink.

Party van ons sien mekaar net een maal ’n jaar en dis hoekom ’n mens, veral ’n joernalis, nie graag hierdie naweek misloop nie. Jy kry skielik al jou mense en veral dié wat jou loopbaan en menswees help vorm het, op een plek bymekaar. En jy cheers op die lewe!

Die groot hoogtepunt vir my was om vir Marita van der Vyver in lewe lywe te kon ontmoet. Ek dink haar hand is nou nog seer nadat sy al my boeke moes teken, want ek koop slaafs – en verslind – elkeen wat uitkom. Boonop het sy ‘n kort boodskap in elkeen geskryf.

Dié keer bring sy haar man, wat intussen afgetree het, saam en hy leer my geduldig hoe om sy Franse naam uit te spreek. Jy spel dit Alain, maar sê Aalaa… baie oefen nodig as jy nie Frans magtig is nie. Enigiets Frans, soos byvoorbeeld ‘n Franse aksent, is sexy en dis lekker om met hom te gesels en te hoor hoe hy hulle gap-jaar ervaar het.

Marita noem hom “Liefie” en ons het heerlik gelag toe hy verduidelik dat liefie nie noodwendig ’n liefdeswoordjie is nie. Soms is dit ’n waarskuwing; afhangende van haar stemtoon.

Hulle is mooi saam en die wegbreekjaar was duidelik goed vir hulle. Ek lei so tussen die lyne deur af dat Suid-Afrikaners voortaan meer van hulle gaan sien.

Marita se nuwe boek wat pas op die rakke beland het, gaan oor haar en Alain se “tussenin-jaar”. Hulle het hulle huis (en ’n groot deel van hulle besittings) na Covid verkoop en besluit hulle reis ’n jaar lank deur Europa, Amerika en Suid-Afrika voordat hulle verdere toekomsplanne maak.

Ek gaan nie die inhoud van die boek verklap nie; lees self. En skaf die musieklys aan wat gespeel kan word terwyl jy die boek lees. Dis gewis die moeite werd en my vriendinne gaan almal My jaar van vrees en vryheid, deur NB Uitgewers, as verjaardaggeskenke kry.

Dat ek die eer gehad het om die gesprek met Marita oor die boek te voer, was ’n persoonlike hoogtepunt in my joernalistieke loopbaan.

Dankie vir die geleentheid, An. Dit was so die moeite werd om al ons planne te verander.”

Tot volgende jaar!”

***

En soos wyle Koos du Plessis mos destyds gesing het:

“Hier’s ons almal tesaam, net in vriendskap se naam… want oor die rand van die glas, lyk dit als nommerpas!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button