Local news

Tussen windpomp en wildeperd

Tussen die wilde perde en die windpompe, kan niemand meer wegsteek nie.

Wanneer ‘n mens hier aankom, verander jou ore. Van ver af is daar stilte, of dalk die gedruis van jou eie gedagtes wat nog in stadstempo raas.

Maar sodra jy die grondpaaie binnekruip, die spoedmeter wat skaars bo 15 km/uur kan uitkom, begin jy die gekreun van ‘n windpomp te hoor.

Daardie metaalstem, wat eers van binne die dorp wag om gehoor te word.

LEES OOK: Jong skrywer bring vars stem na Laeveld se Boekenaweek

Kaapsehoop het sulke maniere om jou stadig te ontbloot, sonder dat jy dit agterkom.

Jannes Erasmus.

Die strate is vol perdemis, maar die perde wys hulself skaars. Bobbejane stap oor mure met kleintjies wat geheimsinnig teen hul ma’s vasklou.

Alles lyk eers geslote, maar oral is tekens dat die lewe hier net-net onder die oppervlak werk.

LEES OOK: Poësienaweek in die berg: ’n Digterlike belewenis om te onthou

So voel dit ook tydens die gesprekke oor boeke, soos by die Innibos Boekenaweek wat hierdie dorpie elke jaar aanbied.

Wanneer ‘n skrywer begin praat oor hul eie woorde, is dit soos die windpomp se gekreun.

‘n Klank wat jy eers hoor wanneer jy naby genoeg kom.

Jannes Erasmus saam Prof. Bernard Odendaal. en Jenny Pape.

Wanneer jy stilstaan.

Die gesprekke is oor die rou meganika agter dit alles. Die ratte wat kraak, die wind wat jou asem vang en jou herinner dat water diep onder die aarde uitgetrek word.

En dan gebeur die ontbloting.

Want ‘n skrywer kan nie hier tussen perde en bobbejane en die stadige ritme van ‘n dorp wat jou pas verskuif sy of haar eie woorde blink poets of verskuil nie. ‘n Boekgesprek laat lae val.

Jy hoor wat jy nie van ver af kon raai nie. Die gekreun van daardie innerlike windpomp, wat wys hoe elke sin, elke paragraaf, eintlik ‘n manier was om by water uit te kom.

LEES OOK: Die Natsteen- en Boekenaweek was weer nommerpas

Kaapsehoop leer jou dat stilte bedrieglik is, en dat alles ‘n klank dra sodra jy naby genoeg kom. Só word ons almal, leser, luisteraar en skrywer, saamgestroop.

Hier, tussen die wilde perde en die windpompe, kan niemand meer wegsteek nie.

Jannes Erasmus.

* Jannes het spesiaal ‘n rubriek uit sy eie pen geskryf oor sy gevoelens rondom dié boekenaweek

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button