Local news

Frikkie was vir ‘n rukkie ‘n Nellie Mier in Mbombela

Saam met 'n appel vir pouse, het Divan Frans sy geliefde marmot by die huis uitgesmokkel skool toe.

Frikkie Breytenbach, soos Divan Frans sy klein, harige vriend noem, het verlede week skelm-skelm by die Nellie Miere gaan kuier.

Die veelkleurige marmot het Dinsdagoggend, met sy appel vir die dag, in Divan se skooltas weggekruip. Juffrou Lizl van der Merwe het opgemerk dat iets nie heeltemal pluis is nie toe Divan alleen die klas binnekom, want sy ouers vergesel hom gewoonlik.

LEES OOK: FOTO’S: By Nellie Miere is kinders nog kinders

Sy het meer intens gekyk en op sy skouer het sy vir Frikkie gesien! Sy het aan Divan gevra of sy ouers weet dat Frikkie hier is, waarna hy eerlik geantwoord het: “Nee, Juffrou.”

Sy het die ouers dadelik in kennis gestel, saam met die ander leerlinge gelag en vir Frikkie in die klas verwelkom. Divan het selfs vir Frikkie ‘n appel vir pouse ingepak.

Divan se ma, Cherise Frans, het laggend vertel wat die oggend gebeur het voor Frikkie saam skool toe is.

“Ons het geen idee gehad hy het hom in sy tas weggesteek nie. Hy was ook heel gewillig om skool toe te gaan. Ons het met hom gegrap oor hy graag skool toe wou gaan, maar hy het aanhou pleit dat hy wel van skool hou.”

LEES OOK: Daaglikse verskyning van poue in Mbombela uiteindelik ontrafel

Sy ma vertel dat hy aan sy maats wou wys hoe cool Frikkie is.

Divan se gesin het nog drie honde en sy sussie het ook ‘n marmot.

Ongelukkig was die ander troeteldiere net te groot vir Divan se skooltas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Gia Radnai

Gia is a senior journalist at Lowvelder and joined the editorial team in 2025. She started her career as a business journalist in 2022 and decided to pursue her dream of becoming a news reporter instead. She believes in giving people a voice and is known for her community and hard news stories.
Back to top button