Geliefde Mbombela-busbestuurder sterf op 62
Deon Minaar het miljoene kilometers op die pad spandeer.
Deon Minnaar, ’n Citybug-busbestuurder, is vanoggend, 31 Oktober, in die ouderdom van 62 oorlede. Hy is as vriendelik beskryf en het altyd daarna gestreef om passasiers veilig by hulle bestemmings te kry.
LEES OOK: Oom Jan, Laeveld bou-legende sterf op 74
Minnaar het 14 jaar lank as taxibestuurder en later as Citybug-busbestuurder gewerk, en het in totaal meer as 2,5 miljoen kilometer met hul voertuie gery. Ná sy aftrede het hy by Zrrr Shuttle aangesluit en verdere pendeldienste aangebied.

Jacques Esterhuizen, hoof- uitvoerende beampte van Citybug, het hom as puntenerig en sagmoedig beskryf, wat sy werksposisie perfek aangevul het. Hy het gereeld Puma-spelers na hulle wedstryde vervoer en selfs tydens die 2021-onluste in Durban mense veilig terug na Mbombela gebring.

“Ek onthou ons moes op ’n plaas oornag omdat dit nog onveilig op die paaie was. Na drie of vier dae het Deon ons veilig huis toe gebring,” het Esterhuizen gedeel.
LEES OOK: Kaapsehoop rou na geliefde inwoner se skielike sterfte
Zrrr Shuttle het ook ’n huldeblyk op hulle Facebook-blad gedeel:
“Ons harte by Zrrr Shuttle is seer oor die afsterwe van Deon Minnaar na ’n drie weke lange siekbed. Ons gaan vir Deon baie verlang. Hy was ’n deernisvolle en eerlike omgeemens.”
Huldeblyke het op sosiale media ingestroom. Samantha Oliver het geskryf:
“Oom Deon was my gunstelingbestuurder by Citybug en later by Zrrr Shuttle… jy laat ’n leemte agter wat nie beskryf kan word nie; jou raad en lekker geselsies sal altyd in my hart weergalm. Oom het familie geword.”
Christa le Roux het gesê:
“Ai oom Deon, jy het ons altyd laat lag met jou sê-goed, en ons het jou as een van die beste bestuurders by Citybug leer ken. Mag jy in vrede rus, oom, totdat ons mekaar weer daar bo sien.”
Luna Grant het geskryf:
“Dit is sulke hartseer nuus. Sterkte aan die familie. Hoop iemand kyk mooi na Dyntjie, sy kat.”
Hy laat sy twee dogters en kat agter. Die familie het versoek dat die gemeenskap hulle tyd gee om die begrafnisreëlings in orde te kry.
