Gesin oorleef verwoestende huisbrand naby Komatipoort
n Vrolik geskilderde beker met die woord ‘Hoop’ op was ’n teken dat die gesin se lewens gespaar is.
Te midde van die swart gebrande puin van hul afgebrande huis, het die Crafford-gesin Maandagoggend, 10 November, ‘n enkele, ongeskonde voorwerp tussen die as opgetel: ‘n helder beker met die woord ‘Hoop’ daarop. Vir hulle, ‘n teken van genade, en ‘n herinnering dat hulle lewens gespaar is.

LEES OOK: VIDEO: Hare waai en brand in Mbombela-teisteringsaak
Die gesin, Fred en Verushka Crafford, en hul drie kinders het net-net van die vlamme ontsnap toe hul huurhuis op ‘n plaas in Emjejane (voorheen Hectorspruit) deur vlamme verswelg is. Dit was hul 10-jarige seun, Connor, wat vroegoggend wakker geword het van die reuk van rook. Hy het sy ouers dadelik gewaarsku, ‘n daad wat waarskynlik sy eie en sy broer Riley (12) se lewens gered het.
“Connor is gewoonlik ‘n diep slaper,” sê Verushka. “Hy het later gesê dit was die Here wat hom wakker gemaak het.”
Verushka het daarin geslaag om ‘n venster te breek en die kinders, insluitend die 10 maande oue Dakota in haar waentjie, uit die huis te kry. Sy het ‘n ernstige sny aan haar arm opgedoen, maar almal het ongedeerd buite gekom.

LEES OOK: Skukuza Safari Lodge dining hall evacuated after roof fire
Die brand het alles verwoes – behalwe die klere aan hul lywe én daardie een beker. “Daardie ‘Hoop’-beker het tussen die as gestaan. Dit was vir ons ‘n teken van God se goedheid,” sê Verushka.
“Ons het selfs my silwer juwele gesien wat gesmelt het – en silwer smelt eers bo 900 °C. Dit wys hoe warm die vuur was.”
Die oorsaak van die brand is steeds onbekend, maar die gesin vermoed dit het in die sitkamer begin. ‘n 19 kg-gasbottel het op wonderbaarlike wyse nie ontplof nie.

Fred, ‘n kontrakteur, het al sy gereedskap verloor – ‘n verlies wat die gesin finansieel swaar tref. Hulle het nou ‘n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om R500 000 in te samel vir herstelwerk, nuwe huisvesting en skoolbenodighede vir hul kinders wat tuisonderrig ontvang.
“Ons prys God, selfs te midde van die chaos,” het Verushka op Facebook gedeel. “Hy bly steeds getrou.”
Om die Crafford-gesin te help herbou, besoek: BackaBuddy: Crafford family home fire.
