Johan vind sy ideale dansmaat in die Laeveld
Johan het eers sy metgesel by Cicada vir 'n eteafspraak ontmoet en besluit sy is die een wat saam met hom sal gaan.
Nadat Johan Swart verlede week talle versoeke via WhatsApp van moontlike metgeselle na ‘n vriend van hom se troue gekry het, het hy met Laevelder gedeel dat hy tot laat dié aand saam met een spesiale meisie gedans het.
LEES OOK: Langarm by ’n troue? Johan Swart soek metgesel in die Laeveld
Marni Grobler (27), ‘n plaaslike arbeidsterapeut, se een kollega het die inisiatief geneem en namens haar ‘n boodskap aan hom gestuur, net soos Johan se vriend, Juan Brand, die plasing namens sy vriend op Facebook gemaak het. Juan het op 19 November op Boer soek ‘n vrou/Vrou soek ‘n boer, ‘n versoek gerig om Johan te help om ‘n metgesel na ‘n vriend se troue te kry.
LEES OOK: Badplaas boer vind nuwe liefde ná Boer Soek ‘n Vrou
“Marni het vir my uitgestaan omdat sy nie desperaat was nie,” sê Johan en voeg by dat sy sag op die oog is en soos ‘n aangename en opregte meisie op die foto gelyk het.
“Ons het die Donderdagaand mekaar by Cicada ontmoet om mekaar beter te leer ken,” het hy gesê.
Hulle het baie goed oor die weg gekom en Johan het haar daarna gevra om saam met hom na die troue toe te gaan.

“Dáár het sy net so lekker saam met my pelle gekuier soos saam met my,” het Swart laggend gesê. Sy vriende het haar spottend gevra om hulle ‘n guns te doen en Swart nog ‘n kans vir ‘n afspraak te gee.
LEES OOK: Mbombela boer waag ‘n kans op liefde in nuwe reeks
Marni is oorspronklik van Pretoria en bly al vir twee jaar in Mbombela.
“Dit was ‘n baie onverwagse, en vinnige verandering van my naweekplanne. Maar soms moet jy toelaat dat jou vriendin jou uit jou comfort zone kry. Ek het nooit gedink ek sou so iets doen nie, maar dit was absoluut die risiko werd.”
Johan het uitgelap dat daar reeds sprake van ‘n tweede date is.
