Maroela Makiti sorg vir vet pret in Mbombela
Die Maroela Makiti by die Hervormde Kerk was ’n reuse sukses met pannekoeke, maroelaprodukte en vermaak in oorvloed.
Die jaarlikse Maroela Makiti op 31 Januarie by die Hervormde Kerk aangebied is, was weer eens ‘n reuse sukses.
Die feesgangers is met heerlike maroelaprodukte en pannekoekmanewales bederf.

LEES OOK: Maroela Makiti delights Mbombela attendees
Feesgangers kon die jaar aan ‘n pannekoekeetkompetisie deelneem en moes probeer om 12 kaneelsuikerpannekoeke in drie minute op te eet.
Elke deelnemer het hulle pannekoeke self gerol en moes van die een punt van die pannekoek tot by die ander punt eet, terwyl beoordelaars hulle fyn dophou.

Een jong man, Luan Bezuidenhout (18), het dit reggekry om al 12 pannekoeke, in ‘n tyd van twee minute en 50 sekondes te verslint. Hy het vier Innibos-kaartjies gewen en het al glo ‘n week voor die tyd vir die kompetisie begin voorberei.
@lowvelder Die pannekoek-eetkompetisie by die Nederduitsch Hervormde Kerk in Belladonnastraat is in volle swang by die Maroela Makiti! #maroela #pancake #mbombela > Video: Francois Loots
Die pannekoeke was deur die bekende Callum mac Pherson op 18 verskillende panne gebak.

LEES OOK: Pumakiti-vasvra by Mbombela Stadion ‘n bate vir die Maroela Makiti
Feesgangers wat nie ‘n groot eetlus gehad het nie kon ook deel in die pret deur ‘n lootjie te koop en raai hoeveel pannekoeke mac Pherson in vier en ‘n halfuur kon bak.
Tanja Nel was die gelukkige wenner en het ‘n R400-eetbewys van The Daily gewen. ‘n Somtotaal van 1 151 pannekoeke is deur mac Pherson gebak.

Laevelders het ook aan heerlike maroelajellie, -blatjang, -bier, -likeur en nog vele meer gesmul terwyl Ruben Roos en Annemarie die gehoor vermaak het.
‘n Totaal van 1 000 kg maroelas was vanjaar geoes. Alle fondse is ten bate van die kerk en instansies soos die Junior Honorary Rangers, Lewende Woord en Securicon.
