Mbombela se Wihan de Jager staan sterk op twee bene na motorfietsongeluk
Wihan de Jager het op 26 Junie 2021 sy linkerbeen in 'n gru-, tref-en-trap-ongeluk op die R40 verloor.
Vyf jaar nadat Wihan de Jager (30) sy linkerbeen in ‘n gru-, tref-en-trap-ongeluk op die R40 verloor het, sien hy daarna uit om weer motorfiets te ry.
LEES OOK: So gaan dit met Mbombela se Wihan ‘n jaar ná ongeluk
Met behulp van die Laeveld-gemeenskap en organisasies sonder winsbejag, het Wihan ‘n prostese-skenking ter waarde van R120 000 gekry. Sy ma, Willa, het met groot opwinding vertel hoe dit alles gebeur het.
“Ek is ‘n pensionaris en met Wihan wat die eerste twee jaar na sy ongeluk nie kon werk nie, was dit byna onmoontlik om die fondse byeen te bring. Ons gebede was beantwoord op 6 November toe die No Limbs No Limits organisasie, verwant met Wheels of Hope, by die Laeveld-motorfietsgemeenskap kom kuier het. Hulle wou meer oor Wihan se storie weet en het ingestem om te help.”
Hulle moes daarna gereeld Pretoria toe reis om hom vir die prostese voor te berei, maar het swaar getrek met die brandstofonkostes.
“Ek het toe vir die mede-eienaar van Citybug, Jacques Esterhuizen, gevra of hy ons kan akkomodeer. Hy het ingestem en ons sommer gratis met die bus na Pretoria toe en terug laat ry,” het sy gedeel.
Wheels of Hope is in Pretoria gebaseer en bestaan uit ‘n groep passievolle geamputeerde motorfietsryers. Hulle gaan jaarliks op ‘n 15-dae lange motorfietstoer van 6 000 km deur Suid-Afrika, met die doel van bewusmaking.
Verskeie borge het bymekaar gekom om Wihan se prostese ‘n realiteit te maak.

Össur, ‘n besigheid wat prosteses vir geamputeerdes verskaf, het die prostetiese voering en voet geskenk. James Pearman het die prostetiese knie geskenk.
LEES OOK: Dis huis toe met Wihan, vir nou
Willa het ook Bradley Beckerleg & Riaan Fourie Medical Orthotics & Prosthetics bedank vir die koker (socket) wat vir die bo-beenprostese geskenk is en hulle uitnemende diens. Sy is ook ewig dankbaar vir die Laeveld-motorfietsgemeenskap se ondersteuning.
Alhoewel Wihan se lewe op 26 Junie 2021 drasties verander het, het hy gedeel dat hy intussen tot bekering gekom het en selfs klavier leer speel het.
“Ek het myself baie onttrek, maar sedert ek my hart vir die Here gegee het, het ek besef dat ek nog steeds ‘n doel op die aarde het,” sê hy.
Hy was met sy bromponie op die R40 tussen Witrivier en Mbombela onderweg, toe ‘n motor in hom vasgery en hom langs die pad gelos het. Die verdagte loop nog op vrye voet en het steeds nie na vore gekom nie.
Wihan droom om nog die langste staproete in die wêreld te stap en sien uit daarna om weer te dans.
