Ubuntu in Sabie: Vreemdeling red paartjie se tweede-kans-liefde
’n Storie van omgee laat die gees van medemenslikheid weer leef in ons kunsmatige samelewing.
Ná vier dekades se afsonderlike lewens het Willem Boonzaier (72) en Nicky Brandt (66) mekaar weer gevind, en beplan om dié Valentynsdag in Pelgrimsrus die knoop deur te haak.
Hul pad na die groot dag het egter ‘n onverwagse draai geneem toe ‘n oomblik van ubuntu hul reis na ewige liefde verder ingekleur het.

Op pad na ‘n doktersondersoek, nadat Boonzaier sy regterknie beseer het, het die paartjie (binnekort egpaar) se voertuig buite Sabie ‘n pap band gekry. Met moeite het Boonzaier die domkrag en spaarwiel uitgehaal, toe ‘n voertuig agter hulle stilhou.
LEES OOK: Oud-elektrisiën van Mbombela skenk boks geskiedenis
Dit was die ene Apostel Thomas Baloyi van Witrivier en sy seun, wat sonder huiwering aangebied het om te help.

Ná die band vervang is, het Baloyi R300 in Boonzaier se hand gestop en aangedring dat dit gebruik word om die band te herstel.
“Baloyi was vir ons ‘n engel wat op die regte oomblik opgedaag het,” sê Boonzaier.
Hulle het later ontdek wie hul helper was en sedertdien verskeie pogings aangewend om hom te bedank, maar tevergeefs.
Vir hulle is dié gebaar ‘n herinnering dat ubuntu, die gees van medemenslikheid en omgee, steeds lewendig is.
Sosiale media het saamgestem.
LEES OOK: Johan vind sy ideale dansmaat in die Laeveld
“Dis nou nuus wat ons almal nodig het in ons lewens,” het Christian Braun gesê.
“Wonderlik! Ek glo nog altyd ‘goed/sleg’ hang nie van kleur of nasionaliteit af nie, maar van hart en geloof!” het Wietske Roux gesê.
“So kry ons nog goeie, getroue mense in ons land van alle kulture, maak nie saak van kleur nie. Ons almal het harte van goud,” het Ria Page gesê, terwyl almal saamgestem het dat dit die reënboognasie is wat hulle wil sien.
Boonzaier en Brandt het mekaar in die vroeë 1980’s in Kaapstad ontmoet en beskryf dit as love at first sight.
Veertig jaar later het Brandt hom verlede jaar onverwags via Facebook opgespoor.
“Dit was presies soos destyds – love at second sight,” sê Boonzaier met ‘n glimlag.
