Rhino Dinee skop NHS se rugbyseisoen stylvol af
Ouers, afrigters en onderwysers het saam met Duane Vermeulen gekuier by Mbombela Stadion tydens die Rhino Dinee-veiling.
Hoërskool Nelspruit het op 6 Maart die Rhino-rugbyseisoen op besondere wyse afgeskop met die jaarlikse Rhino Dinee by Mbombela Stadion.

Dié glansgeleentheid het ouers, afrigters en ondersteuners bymekaar gebring om in styl saam te kuier en terselfdertyd fondse vir Rhino-rugby in te samel. Die tradisie het in 2025 ontstaan toe ‘n groep ouers om die braaivleisvuur besluit het dat die skool ‘n onvergeetlike funksie nodig het wat jaarliks kan voortleef.
LEES OOK: IN PHOTOS: Primary school athletes compete with pride at Nellies meet
Die aand se gasspreker was legendariese Springbok Duane Vermeulen, wat saam met rugbyspesialis MJ Mentz en seremoniemeester Leon Doyer ‘n inspirerende gesprek gevoer het. Die gesprek was eerlik en insiggewend en het die gehoor op ‘n persoonlike vlak geraak.

‘n Groot hoogtepunt van die aand was die veiling, waar pryse gewissel het van 50 sakkies hout tot ‘n Barra-vakansie. Al 21 lotte is verkoop, wat die fondsinsamelingspoging ‘n groot sukses gemaak het.
LEES OOK: Afrikaanse skrywer M.E.R. se skryfklip vind nuwe tuiste by Nellies
Sedert 2025 word die Duane Vermeulen-trofee jaarliks oorhandig aan die span wat die meeste gees en ‘Nellie Guts’ toon. Vanjaar het Gideon Gallaway van King Price die wenlot gekoop en hy sal die trofee aan die einde van die seisoen oorhandig. Die skool het ook aangekondig dat Africa Tyres vanjaar die nuwe hoofborg van NHS Rhino-rugby is en het sy dank uitgespreek teenoor al die ander borge wat die program ondersteun.

Die tradisie bepaal dat die ouers van die o. 15-span elke jaar die reëlings behartig. Die 2026-ouers is trots op die sukses van die funksie en dankbaar dat alles so mooi verloop het, terwyl die 2025-ouers steeds ‘n hand bygesit het. Die Rhino-gees het die aand onvergeetlik gemaak en die geleentheid is besig om ‘n geliefde instelling te word.
Kaartjieverkope vir die 2027 Rhino-rugbydinee sal later vanjaar beskikbaar wees, en ondersteuners word aangemoedig om dié besondere geleentheid dop te hou.
