Local news

VIDEO | De Wet en Isobel haak die knoop deur op pad na leeftyd van geluk op Kaapsehoop

Nagkantoor se bekende gesigte is amptelik 'n getroude egpaar.

“Die liefde brandsteek ‘n annerlike vier,
en jy kannie hele waterse kom stier,
of goi ma Grootrivier yt op hy se kop,
môre sien jy, hie statie liefde self wee op!”

Met die voorlesing uit die gedig, “Boegoe vannie Liefde” van Hans du Plessis, is De Wet Potgieter en Isobel Jackson (néé, nou Potgieter) Saterdag in die Rosestad in die eg verbind.

Leeftyd van geluk

Die swierlike en intieme troue, saam met familie en vriende, is by die Nebo Venue buite Bloemfontein op die N1 gehou.

Dit was uiters gepas, aangesien die venue se naam, Nebo, afgelei is van die berg Nebo in Jordanië, waar Moses ‘n uitsig oor die Beloofde Land gehad het.

Nebo was dus ‘n simboliese keuse vir die egpaar se eie ‘beloofde land’ – ‘n leeftyd van geluk wat voortaan op Kaapsehoop wink.

Isobel en De Wet Potgieter.
Isobel en De Wet Potgieter.

Die paar is in die eg verbind deur André Agenbag, streekslanddros van Mbombela en ook gereelde besoeker van Nagkantoor.

De Wet, bekende en bekroonde oud-joernalis en voormalige redakteur van Laevelder, is die eienaar van die gewilde kuierkroeg op Kaapsehoop – en dit is juis hier waar die liefde vlamgevat het.

LEES OOK: Die Natsteen- en Boekenaweek was weer nommerpas

Van opsitkers tot ja-woord vra

Isobel vertel dat sy Kaapsehoop vir die eerste keer in 2023 saam met Retha Fourie en vriende besoek het, maar dat sy De Wet eers in Maart 2024 formeel ontmoet het.

Isobel se ma, Rita Jackson saam met Isobel en De Wet Potgieter.

“Ons was wel Facebook-vriende. Ek het Kaapsehoop weer in Oktober 2024 saam met vriende besoek. Ek en hy het langs mekaar gestaan toe ons afskeidsfoto’s geneem is. De Wet het gevra dat ek hom moet laat weet wanneer ek veilig tuis is in Hartbeespoort. Drie dae later het hy vir my ‘n pragtige WhatsApp-boodskap gestuur,” sê Isobel.

Daarna het hulle gereeld oor en weer gekommunikeer, al het De Wet aanvanklik gesê hy glo nie aan langafstandverhoudings nie.

‘n Week later het Isobel weer vir twee dae op Kaapsehoop gaan kuier, waar hulle hul lewensverhale met mekaar gedeel het.

Die res is geskiedenis.

Die paartjie het in Julie 2025 verloof geraak.

“De Wet het my een aand, heel uit die bloute, aan die etenstafel gevra of ek met hom sal trou. Natuurlik was die antwoord ja!”

“Hoekom sal ‘n mens verder soek as jy alles het waarna jy soek?” vra Isobel.

Tydens ‘n familiesamekoms in Bloemfontein later in Julie het De Wet ook die geleentheid gebruik om Isobel se ma, Rita Jackson, sowel as haar susters, dogters en broer, om haar hand te vra.

Knoop deurgehaak by Nebo

Die huweliksklokkies het Saterdag gelui en die Nebo-saal is sierlik afgerond deur Mbombela se eie ‘Pienky’, oftewel Elaine Blignaut.

“Ek kan net sê ek het dit as ‘n vriendin gedoen, met baie liefde. Ons het die kleure en dekor bespreek en daarvolgens gehandel. Ek is dankbaar dat ek dit kon doen en deel kon wees van ‘n asemrowende mooi verhaal,” het Blignaut aan Laevelder vertel.

Maar vir Isobel is Elaine baie besonders.

“Sy het ‘n baie besonderse vriendin vir my geword en het aangebied om die tafels te dek en die afronding in die kerkie te doen. Erik Zeeman, ‘n bekende Protea boer van Mbombela, het die Proteas saamgestuur,” sê sy.

Heerlike canapés is vooraf bedien en die pragtige lemoengeur-troukoek is deur Hess Potgieter, Isobel se nuwe skoonsuster, gebak.

Daar is mos ‘n vrou in elke geur, en die toekomsplanne vir Nagkantoor blyk belowend te wees.

LEES OOK: Jong skrywer bring vars stem na Laeveld se Boekenaweek

Jurie en Carmen Cordier, Isobel en De Wet en Christiaan Potgieter, Michelle en Gareth Bailley. > Foto: Verskaf/Van Eck Photography

“Ons gaan in Junie met interessante poduitsendings begin en in Julie skryfskole aanbied. De Wet wil ook nog ‘n boek of twee skryf. Later in die jaar beplan ons ‘n roadtrip en om gesprekke met interessante en bekende persone op te neem.”

“Die liefde het eentlikie dood se krag,
hy gryp jou wa jy niks verwag;
die liefde die soek okkie ytie,
vra nou nie wat jy self beslytie’
* “Boegoe vannie liefde” (Hans du Plessis) – 2002

Carmen en Mila Cordier, Michelle Bailey saam Isobel Potgieter.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button